Jong man in stukke opgesny
2011-04-04 09:53
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Tom de Wet en Marisa Phillips
’n Jong man van Welkom, wat ’n meisie
ná ’n Facebook-afspraak die eerste keer die naweek sou ontmoet, is
grusaam by die begraafplaas buite die stad vermoor. Van sy liggaamsdele
is afgesny en verwyder, waarna sy lyk in ’n vlak graf begrawe is.
Mnr.
Michael van Eck (24) se ouers het hom Saterdagaand laas lewend gesien
voordat hy uit is en dit is ook hulle wat gisteroggend op die groot plas
bloed, wat half met sand toegegooi is, en Michael se bebloede T-hemp by
die valhek na die begraafplaas afgekom het.
Sy torso, waarvan
die kop, regterarm en linkervoet steeds weg is, is ure later deur ’n
reddingshond van die polisie meters van die moordtoneel af in die vlak
graf aan die suidekant van die begraafplaas gekry. Sy denimbroek is saam
met hom begrawe, maar sy onderklere en skoene is weg.
Sers.
Puleng Motsoeneng, polisiewoordvoerder, sê Michael se ledemate is
netjies geamputeer. Albei bene is by die knie afgesny. Die
linker-onderbeen sonder voet, en die regter-onderbeen met die voet
steeds daaraan, was saam met die torso in die vlak graf. Die bolyf het
ook verskeie steekwonde gehad.
Michael se motor is gister
omstreeks 08:00 verlate met die sleutels daarin by ’n taxistaanplek in
Welkom deur die polisie gekry. Die motor is na sy ouers, mnr. Naas en
mev. Henriëtte van Eck, se huis in Welkom teruggespoor.
’n Man wat by die taxistaanplek in die motor wou klim, is in hegtenis geneem.
’n
Soektog na Michael het toe begin en ’n kollega het genoem dat Michael
Saterdagaand ’n nuwe vriendin, wat hy op Facebook ontmoet het, by die
begraafplaas sou ontmoet.
Motsoeneng sê sy ouers het na die begraafplaas gejaag en daar op die bloed en T-hemp by die toegangshek afgekom.
Die
polisie se ao. Fanie du Plessis van Bethlehem en sy reddingshond,
Xander, is ontbied en hulle het gistermiddag op die vlak graf onder ’n
boom aan die buitewyke van die begraafplaas afgekom.
Motsoeneng sê daar is sleepmerke na en rondom ’n gebou enkele meters van die hek, waar ook kondome gekry is.
Langs die gebou was daar nog ’n groot bloedkol, maar geen merke verder nie.
’n Tweespoorpaadjie lei tot by die bome en die vlak graf in die sagte grond.
Van Eck het as elektrisiën by die Beatrix-goudmyn se nr.4-skag gewerk. Hy het aan Welkom-Gimnasium skoolgegaan.
Hy word benewens sy ouers ook deur vier susters, Natasha, Michelle, Bianka en Hendriena, oorleef.
Natasha,
die oudste suster, het gistermiddag laat die begraafplaas besoek waar
sy na die vlak graf gaan kyk het. Van Eck se pa het gister ook daarop
aangedring om sy seun se lyk in dié graf te sien.
Motsoeneng sê
die polisie doen ’n ernstige beroep op enigeen wat Michael Saterdag
gesien het, of enige ander inligting het, om dadelik die diensoffisier
by 082-301-3075 te bel.