Jonges waardeer aarde ná Pangaea-ekspedisie
2011-09-18 21:53
Twee Suid-Afrikaners wat saam met die ontdekkingsreisiger Mike Horn op die ekspedisie-seilboot Pangaea die natuurskoon van Noord-Kanada verken het, is terug met ’n nuwe waardering vir die omgewing.
Henko Roukema (18) van Durbanville in die Wes-Kaap en Mikhayla Bader (17) van die St Mary’s Diocesan School for Girls in Pretoria het op die internet ’n reeks vrae beantwoord en video’s van hulself gemaak om aansoek te doen om aan die Noord-Kanada-fase van die vier jaar lange ekspedisie deel te neem.
Henko en Mikhayla is twee van agt jong mense van onder meer Duitsland, China Pole, Oostenryk en Switserland.
Die groep is gekies om onder meer die Arktiese gletsers en die unieke plant- en dierelewe van die Nunavut-streek van Noord-Kanada saam met Horn te verken.
Hulle het ysige temperature, stormsterk winde en rowwe seetoestande getrotseer.
“Dit was ’n lewensveranderende ervaring,” het Mikhayla gesê.
“Ons het elkeen nou ’n persoonlike verbintenis met dié streek en sal alles in ons vermoë doen om dit te beskerm.”
Henko, wat besig is met maritieme studie aan die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie, het gesê om self te sien hoe die gletsers smelt, het ook op hom ’n groot indruk gemaak.
Die Pangaea-ekspedisie behels die verkenning van 12 unieke landskappe wat deur klimaatverandering bedreig word en duur tot September volgende jaar.
Tweehonderd jong mense sal verskillende dele van dié ekspedisie meemaak.