‘Jou seuntjie vrek vandag’
2010-08-09 22:15
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n Jong man, wat aan brosbeensiekte ly, lê bewusteloos en in ’n ernstige toestand in die waakeenheid van ’n Wes-Randse hospitaal nadat sy ma se eks-kêrel hom “geklap en geskop” het.
Mnr. Christo van Eeden (19), wat skaars 50 kg weeg, het onder meer skedel- en wangbreuke opgedoen in die aanval Donderdagmiddag by die gesin se motorwerkwinkel in Krugersdorp.
Christo se ma, me. Tersia van Eeden, en sy jonger broer, Louis (16), vrees nou vir hul lewens en kruip weg vir mnr. Armand Barnard (37), haar eks-kêrel.
Volgens Van Eeden stuur Barnard steeds dreigende SMS’e na haar en Louis se selfone.
Barnard het gister erken hy het “die kind net ’n klap en so drie skoppe gegee”.
“Hulle is laaities wat dink hulle is groot en hulle soek al lank skoor met my. Hulle het mý gedreig en probeer doodry. Soms koggel hulle my,” het Barnard gesê.
Volgens Van Eeden, ’n weduwee, is brosbeensiekte (osteogenesis imperfecta) by albei die boeties as babas gediagnoseer.
Gevolglik kon hulle nooit skoolgaan nie en sy het hulle tuis onderrig.
By navraag of Barnard bewus was van Christo se toestand, was sy reaksie: “Ag man, daai kind makeer f****l.
“Die laaities is eintlik moerse ‘nice’, maar hulle is te groot vir hul skoene. Hierdie ding is tussen my en hul ma, nie my en hulle nie.”
Van Eeden en Barnard het ’n jaar lank ’n verhouding gehad.
Volgens haar het hulle Woensdagaand stry gekry en het sy gesê hy moet uit haar huis uit.
“Hy het die agterdeur se sleutels gegryp, van die motors in ons erf met klippe gegooi en weggejaag.”
Barnard het dié aand en Donderdagoggend glo aangehou om dreigende SMS’e aan haar en die twee seuns te stuur.
“Hy het Louis ook gebel en gesê hy gaan hom seermaak.”
Op Louis se foon is daar SMS’e van Barnard se nommer wat onder meer lui: “Jy k** more hoekom so bang.”
Aan Van Eeden het hy onder meer ge-SMS: “Liefie nou het jy wat jy mos wil hê jou seuntjie vrek vandag.”
Die volgende dag was Christo by die motorwerkwinkel saam met twee ander werkers toe Barnard, ook ’n werknemer daar, na bewering opdaag.
Volgens Van Eeden het sy ’n SMS van Christo gekry wat lui: “Armand hier. Bel vir John.”
Sy het dadelik mnr. John Pollock, ’n familievriend, gebel wat hom na die winkel gehaas het.
Volgens Pollock het hy Christo in ’n plas bloed aangetref.
“As ek nie betyds daar aangekom het nie, het hy waarskynlik in sy bloed versmoor,” het hy gesê.
“Die twee werkers het probeer help tydens die aanval, maar Armand het glo ’n mes by hom gehad en hulle gedreig.
Nadat hy die seun geslaan het, het hy die werk se bakkie, ’n wit Nissan, se sleutels gegryp en weggejaag.
Die twee werkers het dit gesien.”
Barnard het gister ontken dat hy met ’n werkmotor weggery het en gesê: “Ek ry met my eie kar, ’n Golf-bakkie. Hulle is mal!”
’n Ambulans was volgens Pollock vinnig op die toneel en het Christo na ’n hospitaal geneem.
Volgens hom het polisiebeamptes op die toneel onderneem om hulle terug te bel.
“Ons het nog niks weer gehoor nie en gaan môre (vandag) wéér die saak by die Florida-polisiekantoor aanmeld.”
Kapt. Lydia Mtila-Dikolomela, polisiewoordvoerder, het gister bevestig polisielede was op die toneel.
Sy het gesê Beeld kan vandag weer navraag doen waarom ’n saak nog nie geopen is nie.
Volgens Van Eeden hou Barnard aan om aan haar SMS’e te stuur.
“Een oomblik vertel hy my hoe lief hy vir my is, die volgende dreig hy dat my ander seun óók gaan seerkry. Ek is vreesbevange.”