Kapers skiet man in hart
2012-02-06 22:03
’n Direkteur van ’n IT-maatskappy is Vrydagaand tydens ’n kaping voor ’n vriendin se huis in Midrand doodgeskiet.
Mnr. Jason Jansen van Vuuren (34) is reguit na ’n vriendin, me. Belinda McKenna, se woning in Whiskinlaan nadat hy by die Lanseria-lughawe geland het.
Jansen van Vuuren, direkteur van aanwendingsontwikkeling by Avanade, het pas van ’n sakebesoek in Kaapstad teruggekeer.
McKenna sê Jansen van Vuuren het teen 20:20 by haar huis opgedaag.
“Terwyl my huishulp geloop het om die hek oop te maak, het sy ’n skoot gehoor. Die kapers het in sy motor weggejaag en Jason het in die pad gelê,” het McKenna gesê.
Die paramedici is ontbied, maar Jansen van Vuuren was reeds dood.
Sy tweelingbroer, Ryan, is teen 21:00 van sy dood in kennis gestel.
Mnr. Ryan Jansen van Vuuren vermoed Jason is van die lughawe gevolg. Hy sê sy broer is deur die hart geskiet.
“Hy het slaanmerke oor sy gesig gehad. Hy het terugbaklei.”
Jansen van Vuuren moes sy ouers, Paul en Valerie en sy ouer broer, ook Paul, van Jason se dood sê.
“Dit gaan alles oor Jason. Ons is lief vir hom. Ons kan nie verander wat gebeur het nie, maar ons het die keuse om te besluit hoe ons dit gaan hanteer.”
Jansen van Vuuren beskryf sy broer as “magic” en “awesome”. “Hy was die sout van die aarde. Hy het niemand niks gedoen nie.”
McKenna sê hy was een van die wonderlikste mense wat sy ooit geken het en hy het ’n goeie siel gehad.
Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie, maar die familie beplan om hom die week in Carletonville te veras.
Hulle sal dan later die maand na Jason se vakansiehuis in Ballito, KwaZulu-Natal, gaan om sy as in die see te strooi.
Konst. Matome Tlamela, polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie ondersoek sake van moord en kaping.
Die kapers het Jansen van Vuuren se BMW kort ná die kaping langs die pad gelos.
Geen arrestasies is nog gemaak nie.

Jason Jansen van Vuuren