Kindporno: Voormalige polisieman is skuldig
2012-02-21 22:53
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n Voormalige polisieman en -informant het gister in die Pretoriase streekhof skuld beken op 500 aanklagte van die besit van kinderpornografie.
Karel Jacob Erasmus is gevolglik daaraan skuldig bevind dat hy in Februarie 2010 foto’s van kinders wat seksuele dade pleeg in sy besit gehad het.
Erasmus het beweer dat hy die foto’s versamel het omdat hy ’n portefeulje wou saamstel om misdrywe van kinderpornografie te ondersoek “uit hoofde van my ondervinding in die polisie en as informant”.
Hy het gesê dit het by hom ’n “obsessie” geword om die beelde te versamel vir dié doel.
Die beskuldigde het egter in sy pleitverduideliking beken dat hy nooit die polisie met sy inligting genader het of die “portefeulje” aan hulle oorhandig het nie.
Hy het ook erken dat hy twee vorige veroordelings het.
Hy is in Junie 1989 gevonnis tot ses jaar tronkstraf, waarvan vier jaar opgeskort is, op aanklag van strafbare manslag. In 1992 is hy skuldig bevind op drie aanklagte van bedrog.
Brig. Gérard Labuschagne, hoof van die polisie se ondersoekgerigte sielkunde-eenheid, het ter strafverswaring getuig nadat hy ’n verslag oor Erasmus saamgestel het.
Erasmus is borgtog van R1?500 toegestaan.