Klagtes oor pers druppel in see, sê waghond
2010-09-06 22:13
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
In geheel beskou kwyt die Suid-Afrikaanse pers hom eintlik baie goed van hul taak.
Mnr. Joe Thloloe, persombudsman, het dié mening gister in Johannesburg op ’n konferensie van die Evangeliese Alliansie oor die ANC se beoogde mediatribunaal uitgespreek.
Thloloe het gesê as hy elke dag deur klagtes oor die pers oorval is, sou hy kon dink dat die bedryf ten gronde gaan.
In die jaar van Augustus verlede jaar tot Julie vanjaar het hy egter net 134 klagtes gekry – dít terwyl die bedryf daagliks miljoene woorde produseer.
Dit is soos een druppeltjie in die oseaan.
Dit kan glad nie die kleur van die see verander nie, het hy gesê.
Oor ’n klagte dat koerante soms groot flaters in prominente berigte begaan en dan klein regstellinkies diep in die koerant wegsteek, het Thloloe gesê dit gebeur nie as hy gelas dat ’n prominente regstelling geplaas word nie.
Wat wel gebeur, is dat koerante dikwels foute wat hulle self regstel, op die binneblaaie plaas.
Hy het daarop gewys dat ’n koerant se geloofwaardigheid sy kosbaarste besitting is.
As mense ’n koerant nie meer kan glo nie, sal hy doodgaan, het Thloloe gesê.
Dis hoekom redakteurs so gesteld is op korrektheid en so min daarvan hou om verskonings te plaas.
Thloloe het ook die persepsie verwerp dat die nuusmedia met sy selfregulering eiegeregtig geraak het.
Hy het daarop gewys dat net die helfte van die lede van die Persraad self uit die media kom en dat sy appèlpaneel onder voorsitterskap van ’n regter staan.