Knou vir Afrikaans
2012-02-01 22:47
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Kaapstad. – Afrikaans se status as amptelike taal in nasionale staatsdepartemente gaan in die gedrang wees as die jongste weergawe van die Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale aanvaar word.
Daarvolgens moet staatsdepartemente en nasionale entiteite minstens drie tale gebruik om sake te doen of dienste aan die publiek te lewer.
Dit sluit in kommunikasie met die publiek, amptelike kennisgewings, staatspublikasies en kommunikasie binne en tussen departemente.
Twee van die tale moet inheemse tale wees wat nie voorheen bevoordeel is nie.
Engels en Afrikaans tel onder die tale wat voorheen bevoordeel is. Dit beteken ’n staatsdepartement sal tussen Afrikaans en Engels moet kies om naas twee benadeelde Afrika-tale te gebruik.
Selfs in provinsies waar Afrikaans die meerderheidstaal onder inwoners is, soos die Wes-Kaap en die Noord-Kaap, kan teen Afrikaans besluit word indien ’n departement Engels as derde taal kies.
In die oorgangsgrondwet is bepaal dat geen taal se posisie swakker mag wees as wat dit tevore was nie, maar daardie bepaling is nie in die Grondwet van 1996 opgeneem nie.
Die wetsontwerp is nog nie gefinaliseer nie. Dit word deur die parlementêre portefeuljekomitee oor kuns en kultuur gedebatteer en die DA het gister aangedui dat hy regsadvies daaroor gaan inwin.
Dr. Annelie Lotriet, DA-LP, het gesê: “Ek is oortuig daarvan dat dit nie die grondwetlike toets sal slaag nie. Geen taal kan uitgesluit word nie.”
Lotriet het gesê Afrikaans kan deur dié klousule uit die taalbeleid uitgeskryf word.
“Die taal wat deur die meeste inwoners in ’n provinsie gepraat word, kan uitgesluit word as departemente Engels as die verstektaal kies. Dit is kommerwekkend.”
Haar kommer is deur mnr. Stanley Ntapane, UDM-LP, herhaal. “Kan ons dit nie eerder verander na drie tale, waarvan minstens een ’n amptelike inheemse taal is wat histories nie bevoordeel is nie?
“Indien ons dit nie doen nie, kan ons net nuwe probleme skep in plaas van oues oplos.”
Me. Thandi Sunduza, ANC-voorsitter van die komitee wat al verskeie kere haar irritasie uitgespreek het oor staatsdepartemente wat hoofsaaklik Engels gebruik terwyl net 8% van die bevolking dit praat, het gesê: “So wat doen ons nou met Afrikaans? Ons wil juis ook probeer om ons ander Afrika-tale te bevorder.”
Mnr. Sibusiso Xaba, direkteur-generaal van kuns en kultuur, het gesê staatsdepartemente kan ingevolge die wetsontwerp meer as die minimum van drie tale gebruik. Afrikaans kan dus ook gekies word.
Die komitee sal weer op 15 Februarie vergader om die wetsontwerp te debatteer.
Intussen moet die departement van kuns en kultuur seker maak dat die wetsontwerp aan die bepalings van die Grondwet voldoen.