Krok verras pa en seun in Harties
2011-04-14 23:48
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Daardie lyk nes ’n krokodil, het mnr. Riaan Nabal (41) Saterdag aan homself gesê toe hy van die wal af ’n gedierte in Hartbeespoortdam sien.
“Jou oë sê vir jou dis ’n krokodil, maar jy sit by Harties,” het Nabal aan Beeld gesê.
Nabal, van Doornpoort in die noorde van Pretoria, hengel al sy hele lewe lank. Hy het gesê hy en sy seun, Ruan (16), het dié oggend gesien hoe die krokodilletjie al hoe nader aan die damwal kom.
“Hoor hier, wat sien ek daar?” het Nabal aan sy seun gevra toe hy die krokodil gewaar.
Hy het sy verkyker uit sy motor gaan haal om seker te maak hy sien regtig ’n krokodil.
“Deur die verkyker kon jy die knoppe op sy rug sien soos hy nader gekom het.”
Nabal het ’n ander visstok, dikker vislyn en groter vishoek gereed gekry om die krokodil te vang.
Hy het aangehou om die lyn bo-oor die krokodil te gooi.
Dit het tien probeerslae gevat om die krokodil met die hoek tussen die skubbe op sy rug gehaak te kry.
Ruan, ’n leerling aan die HTS John Vorster wat nou al ses jaar lank deel is van die provinsiale hengelspan, het die krokodil toe met ’n skepnet uit die water geskep.
“Ruan het eintlik die gevaarlike werk gedoen, want die krokodil se bek was heeltyd oop,” het Nabal gesê.
Nabal het gesê hy het al mooi op die TV hoe ’n krokodil gevang word deur ’n lap oor sy kop te gooi en sy bek met ’n rekkie toe te bind.
Dié het hulle darem ook byderhand gehad.
Nabal en Ruan het toe die krokodil aan die Hartbeespoortdam- slang-endierepark geskenk.
Mnr. Hencke Marais van Tshwane-natuurbewaring se spesialiteitsdienste het gister gesê dis nie ’n “algemene daaglikse ding” om ’n krokodil in Hartbeespoortdam te sien nie, maar dit gebeur wel by geleentheid.
Krokodille gebruik volgens Marais rivierstelsels om stroomop of -af te beweeg op soek na matige warm water.

Mnr. Riaan Nabal met die krokodilletjie wat hy en sy seun die naweek in die Hartbeespoortdam gekry het.
Foto: Ruan Nabal