Kusoorde staal hulle vir tropiese sikloon Funso
2012-01-24 21:43
Bestuurders en personeellede van gewilde vakansieoorde aan die kus van Mosambiek se Inhambane-provinsie, onder wie talle voormalige Suid-Afrikaners, het hulle gister gestaal vir die naderende intense tropiese sikloon Funso.
Dié sikloon, wat tans suidwaarts in die Mosambiekse Kanaal afbeweeg en eergister tot ’n kategorie 4-sikloon versterk het, het 12 sterftes veroorsaak en sowat 5 000 mense dakloos gelaat toe dit die naweek oor die Zambezia-provinsie in die noorde van Mosambiek beweeg het.
’n Kategorie 4-sikloon se windsnelhede wissel tussen 211 km/h en 249 km/h.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het gister gesê Funso word beskou as een van die potensieel dodelikste tropiese siklone die laaste paar jaar in die Mosambiekse Kanaal.
“Funso het sedert Sondag, toe dit weer oor die oop see in die Mosambiekse Kanaal beweeg het, aansienlik versterk en dit lyk of plaaslike atmosferiese toestande gunstig is om die sikloon nog minstens 48 uur met sy huidige intensiteit te laat woed,” het mnr. Mr. Kevin Rae, weervoorspeller van die SAWD, gister gesê.
Die SAWD het vroeër gesê Funso hou nog geen bedreiging vir Suid-Afrika in nie en dat dit waarskynlik nie nog swaar reënval sal veroorsaak nie in dele van Limpopo en Mpumalanga wat verlede week weens die tropiese storm Dando baie swaar reën ervaar het.
Rae het egter gewaarsku dat die ontwikkeling en beweging van tropiese siklone uiters onvoorspelbaar is.
“Daar is steeds ’n geringe kans dat Funso oor die suidelike kus van Mosambiek, tussen Vilankulos en Inhambane, kan inbeweeg.”
Die webtuiste tropicalstormrisk.com het gistermiddag voorspel dat Funso vandag rakelings verby die kusgebied van Vilankulos tot by Guinjatabaai sal beweeg.
“Ons berei ons maar voor op die ergste,” het mnr. André van den Berg, ’n Suid-Afrikaner wat by die Cumbini-kusoord in Guinjatabaai werk, gister gesê.
Al gaan Funso waarskynlik nie direk oor dié streek beweeg nie, word sterk winde, rowwe seetoestande en swaar reën verwag.
“Baie gebeur nogal hier voor so ’n sikloon,” het Van den Berg gesê.
“Die duiksentrums op die strande is almal al ontruim en groot toerusting soos bote, meubels en kompressors word na ’n hoër terrein gebring en gestoor.
Restaurante en vakansiehuise naby die strand word ook ontruim. Daarna is dit wag en kyk.”