‘Laan’ se Altus speel rugby in ’n rolstoel
2010-08-15 22:08
Rolstoelrugby is rof!
Dit het Heino Schmitt, beter bekend as 7de Laan se Altus de Bruyn, gister besef toe hy saam met gestremdes rolstoelrugby gespeel het.
Schmitt het saam met die rugbyspelers in rolstoele aan ’n wedstryd deelgeneem en het by tye gespartel om by te bly.
Die wedstryd is op die Universiteit van Pretoria se Groenkloof-kampus gehou.
Me. Yvette van der Westhuizen, die spanbestuurder, het gesê dit is gehou om mense bewus te maak van die sport en om toekomstige borge te lok.
“Die sportsoort het sy oorsprong in Kanada in 1977 gehad en is vandag baie gewild onder kwadrupleë.
ense met ’n geamputeerde been kan ook deelneem aan die sport.
“Daar is egter verskeie maniere waarop liggaamlik gestremde mense gekeur kan word vir rolstoelrugby.
Vroue is ook welkom om deel te neem,” het Van der Westhuizen gesê.
Die 7de Laan-akteurs Amalia Uys (San-Mari), Melanie du Bois (Felicity) en Theodore Jantjies (Xander) was ook gister by dié wedstryd om hul ondersteuning te wys.
Mnr. Luan Degenaar (43), ’n rolstoel-kragman van Brits wat self ’n kranige rugbyspeler is en al vir die Amakroko-rugbyspan gespeel het, het vir opwinding gesorg toe hy ’n Nissan Hardbody-bakkie 20 meter ver teen ’n opdraande getrek het.
“Dit was baie swaar. Ek het al ’n vliegtuig ook getrek, maar die bakkie was swaarder.
“’n Mens moet die hele pad op ‘negotiate’ om te sorg dat die bakkie nie terugrol nie,” het hy gesê.
Degenaar se vrou van die afgelope 20 jaar, Charmaine (41), was ook daar om hom aan te moedig.
Hy het gesê hy is nie in ’n rolstoel omdat hy in ’n ongeluk was nie, maar omdat hy “so ge-issue” is.
“Sodra ’n mens tevredenheid oor jouself het, kan jy enigiets vermag. Dan is jy van binne gelukkig.
“Ons moet natuurlik ook nie vergeet waar ons krag vandaan kom nie. As dit nie vir Hom was nie, was niks moontlik nie,” het hy tevrede gelag.
Hy moedig mense aan om hul drome na te jaag.
Om meer uit te vind oor rolstoelrugby besoek www.wheelchairrugby.co.za, of kontak Van der Westhuizen by 082 841 5323.