Saak teen 6 ‘aanvallers’ geskrap oor staat vra om uitstel
2010-07-13 12:15
Hartswater. – ’n Landdros het ’n saak van poging tot moord teen ses verdagtes in verband met ’n plaasaanval van die hofrol geskrap nadat die staatsaanklaer om uitstel gevra het.
Mnr. Phaladi Shuping, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag in die Noord-Kaap, het gesê die ses mans is vroeër op borgtog vrygelaat.
“Inligting oor die ondersoek was verlede Donderdag tydens die verdagtes se hofverskyning agterstallig. Die aanklaer het gevra die saak moet uitgestel word.
“Die landdros het besluit om die saak van die rol te skrap.”
Die verdagtes, mnre. Victor Mariping (36) van Hartswater, John Assan (25) van Mosambiek, Manapule Mongale (20), William Salome (44), Ishmael Motwani (47) en Johannes Gorewang, al vier van Magogong, se geld vir borgtog is aan hulle teruggegee en hulle is vrygelaat.
Hulle is vroeër aangekeer in verband met die aanval op mnr. Charles Engelbrecht en sy vrou, Violet, op 10 Januarie op hul plaas naby Hartswater. Engelbrecht is ernstig beseer. Sy vrou is aan ’n stoel vasgebind.
Twee van die verdagtes het vroeër by Engelbrecht en een by sy buurman gewerk.
Engelbrecht het gister gesê hy is geskok dat die saak sommer van die hofrol geskrap is.
“Daar is aan my verduidelik die polisie se ondersoek was nie na wens nie. Ek is erg beswaard hieroor. Ek en my vrou worstel steeds met die nagevolge van die aanval.”
Engelbrecht het gesê hy het destyds ’n private speurder aangestel om te help met die ondersoek.
Die speurder het saam met die polisie teen die vyfde dag ná die aanval ses van die sewe verdagtes aangekeer.
Engelbrecht se mediese koste beloop R120 000.
Shuping het gesê sodra die agterstallige inligting beskikbaar is, sal die saak heropen word.
Engelbrecht wil egter weet: “Hoe gaan hulle weer die verdagtes kry? Hulle gaan mos nou verdwyn!”