Liters water drink sy ‘straf’
2010-09-09 22:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die lugmag gaan beweerde vergrype en swak dissipline onder instrukteurs in die lugmaggimnasium by Hoedspruit ondersoek.
Lt.genl. Carlo Gagiano, lugmaghoof, het vandeesweek gesê hy beskou bewerings oor die mishandeling van rekrute en drankmisbruik onder die instrukteurs in die opleidingseenheid in ’n baie ernstige lig.
Volgens hom sal die saak deeglik ondersoek en die nodige stappe gedoen word om nog probleme te voorkom.
Hy het gereageer nadat Beeld klagtes van lede van die publiek en besorgde ouers ontvang het.
Rassisme vier glo hoogty en die studente durf nie kla nie omdat van die instrukteurs glo “vriende in hoë poste” het.
Vroulike studente loop ook deur en moet genoeë daarmee neem dat van die instrukteurs weier om vertrekke te verlaat waar die vroue verklee.
As hulle durf kla, word hulle geviktimiseer.
Een van die instrukteurs het glo die gewoonte om die vroue as “jou n**i” aan te spreek.
Vir sommige wat onlangs ’n ouerdag by die eenheid bygewoon het, was dit die druppel wat die emmer laat oorloop het toe van die instrukteurs sommer vroeg dié dag hul uniforms uitgetrek en aan die drink gegaan het.
Nog ’n instrukteur het by die geleentheid ’n student se arendkenteken van sy vlugpet afgepluk omdat die instrukteur glo syne verloor het.
Hy het toe ten aanhore van ’n klomp mense vir die student gesê om te “f***f”.
’n Omstander het die student met ’n ander kenteken gehelp, maar die volgende dag is die student “gestraf”.
Die instrukteur het hom gedwing om 5 liter water te drink omdat hy die kenteken aanvaar het.
Die instrukteurs se gevloek het al só ondraaglik geword dat die eenheid se kapelaan herhaaldelik daaroor gekla het.
Niks word egter aan die probleem gedoen nie.
’n Lid van die publiek wat by die ope dag was, het aan Beeld gesê dit is uiters onsmaaklik dat instrukteurs die lugmag se naam só deur die modder sleep.
“Hoe kan daar van rekrute verwag word om gedissiplineerd op te tree as die instrukteurs geen dissipline het nie?”
Klagtes oor opleidingsmetodes het begin vanjaar begin opduik, kort nadat die eenheid van Valhalla na Hoedspruit verskuif is.
Die weermag het toe gesê die instrukteurs sal voorligting moet kry oor die hoër temperature in Hoedspruit en die gevare wat volgehoue opleiding in hitte kan veroorsaak.
Dít was nadat van die studente glo gedwing is om op vuurwarm teer opstote te doen totdat hulle blase op hul hande gehad het.
Volgens ingeligtes het dadels gekom van verskeie klagtes en ingrypings om die probleme by te lê.