Lyk ná moord by Bybel gevind
2010-09-23 22:34
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Haar Bybel waarmee sy kort tevore Bybelstudie gedoen het, was op die bedkassie waarlangs die bebloede byl op die vloer gelê het.
Mev. Jacoba “Jakkie” Cornelia Coetzee (62) van Ermelo wat gistermiddag wreed met dié byl doodgekap is, het langs die bed gelê.
Geskokte familielede en vriende, onder wie talle polisielede, het gister by die Coetzee-egpaar se huis, Beekmanweg 10, saamgedrom nadat die nuus oor die moord bekend geword het.
Haar man, Gert (66), het omstreeks 12:30 by die huis gekom en in die hoofslaapkamer op sy vrou se verminkte lyk afgekom.
Sy het minstens een kapwond aan die gesig.
Mev. Coetzee, ’n lidmaat van die NG Moedergemeente in die dorp, was vroeër die oggend saam met vriende by haar weeklikse Bybelstudiegroep.
Sy is die laaste keer lewend gesien toe sy omstreeks 11:30 daar weg is.
Toe haar man kort voor middagete by die huis kom, het hy haar in ’n plas bloed op die vloer langs die bed in hul slaapkamer aangetref.
Die byl het naby haar lyk gelê.
Die Coetzees was baie bekend in die dorp en die nuus oor haar dood het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.
Hulle het onder meer elke jaar die kaartjieverkope by die Ermelo-skou se ingang behartig.
Die egpaar het ook deeltyds in die kroeg in die polisiekantien gewerk.
Mev. Coetzee is juis gisteroggend by die kantien gesien waar sy besig was met voorraadopname nadat hulle eergisteraand gewerk het.
“Sy was ’n juweel van ’n mens. Die vredeliewendheid self,” het kapt. Karla Prinsloo, woordvoerder van die polisie in die dorp, gister gesê.
Teen druktyd was die polisie se forensiese kundiges steeds besig om die toneel vir leidrade te fynkam.
Haar dogter, mev. Susan Losper, het gister kort nadat sy by die moordhuis aangekom het, huilend aan Beeld gesê dat die voorval verskriklik was.
Sy was te emosioneel om verder te praat.
Teen druktyd gisteraand kon die polisie volgens Prinsloo nog geen teken van gedwonge toegang tot die huis kry nie.
Net mev. Coetzee se selfoon word vermis.
Inligting oor die moord kan aan lt.kol. Leonie Joubert by 017 811 3665 gegee word.