Ma sterf op eerste vlug in mikrotuig
2012-02-07 22:27
Die vrou wat Saterdag in ’n mikrovliegtuigongeluk aan die Wes-Rand dood is, was opgewonde oor die vlug omdat dit haar eerste in ’n mikrovliegtuig sou wees.
Me. Lisa Olding (38) van Helderkruin, Roodepoort, is dood nadat die mikrovliegtuig in kragdrade naby Sterkfontein by Krugersdorp vasgevlieg en neergestort het.
Me. Taryn de Vries, Olding se suster, het gesê mnr. Guy Woollon (40), die vlieënier, het ’n gekraakte rugwerwel opgedoen.
Woollon, ’n gelisensieerde mikrovliegtuig-vlieënier met ses jaar ervaring, en Olding was in die beginfase van ’n verhouding.
“Hulle het mekaar op skool geken en wee maande gelede weer op Facebook kontak gemaak,” het me. Arlene Olding, Lisa se ma, gesê.
“Dit was ’n ongeluk. Ek sal Guy nooit blameer nie,” het De Vries oor haar suster se dood gesê.
Woollon het Olding se seun, Deklan (10), vir ’n vlug geneem voor sy en Olding se noodlottige vlug.
“Die laaste ding wat hy kan onthou, is dat hy vir Lisa sê hulle gaan gou op ’n stuk veld (1 km van die ongelukstoneel) land en terug na die vertrekpunt vlieg,” het mnr. Roy
Olding, Lisa se pa, gesê.
Daar is aanvanklik vir die gesin gesê Olding was in ’n klein ongeluk en is op pad hospitaal toe.
“Ons het gedink sy is nie ernstig beseer nie. Dit was ’n massiewe skok toe ons uitvind sy is op die toneel dood,” aldus me. Olding.
Olding het administratiewe en sekretariële werk by die koerantgroep Caxton se opleidingsakademie gedoen.
Olding se dogter, Kayla (13), het gesê haar ma het haar en Deklan soggens wakker gekielie en sy gaan dit baie mis. Die kinders bly by hul grootouers.
Olding word môre uit die Strubens Valley Christian Church in Roodepoort gegrawe.
Sy word ook oorleef deur ’n broer, Grant.