Madeliefie: ‘Vir samehorigheid’
2012-02-17 21:29
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
“Die uitdaging is om al die sportsoorte in die streek oorgehaal te kry om die Barbertonse madeliefie-embleem ter wille van maatskaplike samehorigheid en transformasie vaarwel te roep.”
Só lui ’n interne dokument van die Tshwane-sportraad (TSR) oor die omstrede embleem-kwessie.
Beeld het onlangs berig die Barbertonse madeliefie en die ligblou van Pretoriase sportspanne is weer in politici se visier.
Die Tshwane-sportraad word op 31 Maart amptelik die beheerliggaam van sport in die Tshwane-streek wanneer die Gauteng-Noord-sportraad en Metsweding-sportraad (Bronkhorstspruit-streek) met die TSR saamsmelt.
Die TSR kry, volgens sy konsep-grondwet, sy mandaat by die Gautengse sportraad en die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok).
Daar is glo ’n politieke agenda om die madeliefie en ligblou met ’n meer verteenwoordigende embleem en kleure te vervang.
In die interne dokument van die TSR, gedateer Oktober 2011, word daar benadruk daar moet so gou moontlik alternatiewe embleme voorgestel word, sodat die proses “deurgevoer” kan word.
“Die TSR moet so gou moontlik meer invloed onder die verskillende sportkodes bewerkstellig,” lui die dokument.
Mnr. Bismarck Mosuoe, voorsitter van die TSR, het gister navrae na me. Tsholofelo Papo, die TSR se woordvoerder, verwys.
Papo het nie gister op navrae gereageer nie.
Die Gauteng-Noord-sportraad het sy lede vroeër die maand in ’n omsendbrief daarop gewys dat daar ’n voorstel is om die madeliefie en kleure te vervang.
“Ons het almal se steun nodig as dié voorstel ter tafel gelê word,” lui dié brief.
Die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU) en die Northerns-krieketunie tel onder die sowat 30 sportsoorte wat reeds skriftelik aangedui het hulle is nie te vinde vir ’n nuwe embleem nie.
Die proses word deur die Tshwane-metro se departement van sport en ontspanning gekoördineer.
Me. Faith Kgaditse, Tshwane se burgemeesterskomiteelid vir sport en ontspanning, kon die afgelope week ondanks verskeie boodskappe nie vir kommentaar bereik word nie.