Malema in sop omdat hy nie beloofde skoene gee nie
2010-09-07 22:09
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Mnr. Julius Malema, president van die ANC-jeugliga, is onverantwoordelik omdat hy nie ’n belofte nakom om 200 paar skoene aan behoeftige skoolkinders in Limpopo te gee nie.
So het me. Desiree van der Walt, DA-leier in Limpopo, gister gesê ná berigte dat Malema in Januarie verlede jaar glo skoene aan leerlinge aan die Makanyu Primary School in die Thohoyandou-gebied belowe het.
“Hy buit die armes uit om politieke punte te wen,” het Van der Walt gesê.
African Eye News berig Malema het steeds nie die skoene aan die kinders besorg nie.
Mnr. Nthambeleni Ramanyimi, skoolhoof, het gesê Malema het die belofte van 200 paar skoene aan die kinders gemaak voor onderwysers, ouers en lede van die skoolbeheerliggaam.
Ramanyimi het gesê die skool het verskeie pogings aangewend om uit te vind wanneer die skoene afgelewer word.
Volgens hom is die leerlinge en hul ouers baie ontsteld en teleurgesteld.
Mnr. Floyd Shivambu, woordvoerder van die jeugliga, het alle navrae na mnr. Jacob Lebogo, jeugleier in Limpopo, verwys.
Lebogo het gister nie sy telefoon geantwoord nie.