Man doodgeslaan op hoewe; vrou verkrag
2010-04-18 22:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n Man is doodgeslaan, sy vrou herhaaldelik verkrag en hul vierjarige dogtertjie erg aangerand toe sowat 15 mans by hul huis op hul kleinhoewe in Dalmada buite Polokwane (Pietersburg) ingebreek het.
Volgens kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder, het die mans eergister omstreeks 03:30 by die gesin se huis ingebreek.
Hulle het die 40-jarige man vasgebind en hom doodgeslaan voordat vyf van hulle sy vrou verkrag het.
Daarna het hulle die kind aangerand.
Volgens Ngoepe is die motief vir die voorval onbekend. Niks is uit die huis gevat nie.
Hy het gesê die vrou en haar dogtertjie is na ’n nabygeleë hospitaal geneem nadat mense van die omgewing die polisie van die voorval in kennis gestel het.
Ngoepe het gesê die vrou was “te getraumatiseer” om ’n verklaring aan die polisie te gee.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Enigiemand met inligting oor die voorval word gevra om 10111 te skakel.