Man in hof ná aanval op eks se seun
2010-09-06 22:13
Die man wat sy gewese vriendin se sieklike seun glo aangerand het, het gister vlugtig in die Roodepoort-streekhof verskyn.
Mnr. Armand Barnard (37) staan tereg op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en diefstal nadat hy sy gewese vriendin, Tersia van Eeden, se seun Christo (19) op 5 Augustus in ’n werkwinkel in Hamberg, Roodepoort, glo bygedam het.
Dit het gebeur ’n dag nadat Van Eeden Barnard gevra het om haar huis te verlaat.
Brosbeensiekte is as baba by Christo en sy jonger broer, Louis (16), gediagnoseer.
Christo was die betrokke dag glo by die motorwerkwinkel saam met nog twee werkers toe Barnard, wat toe nog daar gewerk het, glo opgedaag het.
Dit is nie duidelik wat presies gebeur het nie.
Mnr. John Pollock, ’n familievriend, het die seun later in ’n plas bloed op die perseel aangetref.
Barnard het glo met ’n werkbakkie van die werk op die vlug geslaan. Hy is op 19 Augustus in Wentworthpark, Krugersdorp, aangekeer.
Christo is weke lank in ’n Wes-Randse hospitaal behandel en moet ná sy ontslag op 28 Augustus steeds dag en nag dopgehou en versorg word.
Hy het die hofverrigtinge gister met ’n oogklap en in sy rolstoel bygewoon.
Barnard het vlugtig voor landdros J. Baloyi verskyn.
Sy aansoek om borgtog is vir twee weke uitgestel sodat die staat ’n nuwe adres kan bevestig.
Sy amptelike borgtogaansoek word op 15 September aangehoor.

Mnr. Armand Barnard (37)