Man kry erg seer toe sy sweeftuig teen toring bots
2010-09-05 22:20
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n Man in sy laat 30’s het verskeie beenbreuke opgedoen toe hy met sy hangsweeftuig teen die seintoring van die Hartbeespoortdam se kabelkarre gebots en grond toe geval het.
Me. Vanessa Jackson, woordvoerder van ER24, het gesê die man het vermoedelik van die boonste punt van die Magaliesberg weggespring toe die wind moontlik van rigting verander het en die man het teen die toring vasgevlieg.
“Hy het grond toe geval. Dit is onduidelik presies hoe ver hy grond toe geval het,” het Jackson gesê.
Volgens haar is die Hartbeespoortdam-nooddienste se reddingseenheid ontbied om die man te help.
“Hulle moes teen die kant van die berg oploop om by hom uit te kom omdat die kabelkarre nie meer in gebruik is nie.
“Paramedici het die afstand van die grond na die man as ‘baie, baie lank’ beskryf. Toe hulle uiteindelik by hom uitgekom het, het hy op die grond gelê en hy was in erge pyn.”
Jackson het gesê die paramedici het die man gestabiliseer terwyl hulle gewag het op die ER24 Discovery Medicopter wat kort daarna op die berg geland het.
Die man is daarna na ’n hospitaal in Pretoria gevlieg.
Volgens Jackson is die man se regterarm en been gebreek, sy regterskouer is uit potjie en hy het verskeie ribbe aan die linkerkant van sy lyf gebreek.
“Hy was by sy volle bewussyn regdeur die voorval,” het Jackson bygevoeg.