Man kry sy vrou se lyk op haar rug, met bene oor bad se rand
2009-11-15 22:44
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Vereeniging. – Die vrou van ’n sakeman hier is eergisteraand in hul spoghuis in die rykmansbuurt Drie Riviere vermoor.
Mnr. Mario Viljoen (58), ’n Vaaldriehoekse sakeman wat onder meer spesialiseer in huisbeveiliging, het die halfnaakte lyk van sy vrou, Marileen Catherina (51), eergister omstreeks 17:00 in die bad gekry.
Volgens konst. Ntsidiseng Phakoe, polisiewoordvoerder, is sy vermoedelik verwurg, maar die oorsaak van haar dood word vandag tydens ’n nadoodse ondersoek vasgestel.
Me. Viljoen was alleen by die huis tydens die aanval. Daar is, volgens Phakoe, geen tekens van gedwonge toegang nie.
“Die huis is effens deurmekaar gekrap en sover ons kan vasstel, is slegs vyf vuurwapens uit ’n kluis in ’n slaapkamer gesteel.”
Die kluis, met die sleutel nog in die slot, is oop gevind.
Vier van die vyf vuurwapens is later die aand deur die polisie op die eiendom teruggevind.
Bure, wat nie geïdentifiseer wil word nie, het in die loop van die middag niks vreemds gehoor of gesien nie.
Mev. Viljoen het, volgens dié bure, aan Addison se siekte gely.
Dit is ’n chroniese aandoening wat ontstaan as gevolg van ’n tekort aan adrenokortikotrofiese hormone, veral aldosteroon.
Mnr. Viljoen was tydens die voorval uit saam met sy seun, mnr. Quinton Viljoen, dié se verloofde, net bekend as Alicia, en hul 14 maande oue babaseuntjie.
Mnr. Viljoen het omstreeks 17:00 alleen na die huis teruggekeer.
“By sy terugkoms het hy sy vrou in die bad in die badkamer gevind. Sy het op haar rug, met haar bene oor die bad se rand, gelê. Sy het net ’n T-hemp aangehad.”
Mnr. Viljoen het by bure om hulp aangeklop.
Hy is later voor die huis deur familielede, vriende en bure ondersteun, terwyl sy seun traumaberading ontvang en die polisie die moordtoneel ondersoek het.
Insp. André Joubert en sy hond, Boras, wat opgelei is om liggaamsvloeistowwe uit te wys, het die toneel gefynkam op soek na moontlike leidrade. Daar is nog geen verdagtes nie.