Man vas nadat rowers in polisiekar wegjaag
2010-09-07 22:09
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n 34-jarige man is eergisternag in Khuma by Stilfontein gearresteer omdat hy vermoedelik een van ’n paar transitorowers is wat eergister in ’n polisievoertuig weggejaag het.
Leë houers is in die man se huis in Khuma gevind waarin die geld was wat die rowers gebuit het, het lt.kol. Lesego Metsi, polisiewoordvoerder in Noordwes, gesê.
Volgens Metsi vermoed die polisie ses rowers het eergister op die geldwa by ’n Engen-vulstasie in Khuma toegesak.
Behalwe die onbekende bedrag wat hulle geroof het, het hulle ook een van die veiligheidswagte se wapen gevat.
Dit is nog soek.
Die polisie het die rowers kort ná die rooftog agternagesit.
’n Skietery het uitgebreek, waarna van die rowers skielik in die polisievoertuig gespring en weggejaag het.
Die voertuig is later ’n paar kilometer verder verlate in Khuma gevind.