‘Mandela het ons versaak’
2010-03-09 22:44
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Oudpres. Nelson Mandela het in 1994 ’n “swak ooreenkoms” vir swart mense gesluit. En emeritus aartsbiskop Desmond Tutu is ’n “idioot” (cretin) wat dit durf waag het om haar voor die Waarheid-en-versoeningskommissie te daag.
Me. Winnie Madikizela-Mandela, Mandela se gewese vrou, het gister dié merkwaardige aanval op die voormalige president gedoen.
Dit is geopenbaar deur me. Nadira Naipaul, vrou van die skrywer V.S. Naipaul, wat Madikizela-Mandela in Johannesburg besoek en ’n artikel daaroor in die London Evening Standard geskryf het.
’n Bitter Madikizela-Mandela het daarop aanspraak gemaak dat sý die ANC aan die gang gehou het terwyl die beweging se leiers in die tronk of in ballingskap was.
“Mandela het ons in die steek gelaat. Hy het ingestem tot ’n swak ooreenkoms vir swart mense.
“Ekonomies staan ons steeds aan die buitekant. Die ekonomie is steeds wit. Daar is ’n paar simboliese swart mense, maar so baie wat hul lewe vir die struggle gegee het, het gesterf sonder om beloon te word.”
Sy het gesê die naam Mandela is ’n “albatros om die nek van my gesin”. Hy was nie die enigste wat gely het nie; honderde ander het ook, soos Steve Biko.
“Mandela het as brandende jong revolusionêr tronk toe gegaan. Maar kyk net wat het uitgekom.”
Sy kan haar gewese man nie vergewe dat hy die Nobelprys vir Vrede in 1993 saam met die oudpres. FW de Klerk (“sy tronkbewaarder”) aanvaar het nie.
“Dink jy De Klerk het hom vrygelaat omdat hy ’n goeie hart gehad het? Hy móés.
Die tydsgewrig het dit gedikteer, die wêreld het verander en ons struggle was nie van verbygaande aard nie; dit was bloedig om die minste daarvan te sê en ons het riviere vol bloed gegee.
Ek het dit aan die gang gehou met alle middele tot my beskikking.”
Sy het haar gewese man ook kwaai aangeval oor die “WVK-klug”. Hy moes nooit daartoe ingestem het nie.
“Watse nut het die waarheid? Hoe help dit enigiemand om te weet hoe of waar hul geliefdes vermoor of begrawe is? Daardie biskop Tutu het dit alles in ’n religieuse sirkus omgeskep. Hy het die astrantheid gehad om my aan te sê om te verskyn.
Ek het hom ’n paar waarhede vertel. Ek het hom gesê hy en ’n paar soortgelyke idiote het slegs hier gesit as gevolg van ons struggle en my.
“Mandela is nou ’n korporatiewe stigting. Hy word wêreldwyd uitgestoot (wheeled out) om skenkings te aanvaar en hy is tevrede om dit te doen. Die ANC het hom effektief op die kantlyn geplaas, maar ter wille van sy beeld hou hulle hom as strooipop aan.”
As me. Winnie Madikizela-Mandela aan die stuur van sake in Suid-Afrika was, sou die land nou nog in ’n burgeroorlog vasgevang gewees het.
Só het me. Helen Zille, DA-leier, gister gereageer op Madikizela-Mandela se aanval op oudpres. Nelson Mandela, berig Philda Essop.
Zille het gesê dié uitsprake is ’n bewys van wat Suid-Afrika in Mandela en oudpres. FW De Klerk het.
“Nou sien ons watter moed dit gekos het vir Mandela om nasiebou en versoening na te streef.”
Mnr. Ismail Mnisi, ANC-woordvoerder, het gister gesê die party het nog nie met Madikizela-Mandela gepraat nie.
“Sy is in Amerika en totdat na Suid-Afrika sy terugkeer, sal die ANC nie reageer nie. ”
Ná herhaaldelike probeerslae, wat ’n e-pos-navraag insluit, kon ’n woordvoerder van die Nelson Mandela-stigting nie gister vir kommentaar bereik word nie.