McBride mik na hoë pos in Pta
2010-07-20 22:32
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Mnr. Robert McBride is op ’n kortlys van vyf kandidate waaruit Tshwane se nuwe metropolisiehoof gekies gaan word.
’n Paneel van die Tshwane-metroraad het gister in Munitoria in Pretoria met die kandidate onderhoude gevoer en kan vandag reeds ’n aanbeveling doen.
McBride, voormalige metropolisiehoof van Ekurhuleni aan die Oos-Rand, is een van die gunstelinge vir die pos van strategiese uitvoerende hoof vir gemeenskapsveiligheid, al staan hy nog tereg op aanklagte van bedrog, dronkbestuur en regsverydeling ná ’n ongeluk in Desember 2006.
McBride se ampsmotor het naby Centurion omgeslaan op pad terug van ’n werkpartytjie naby die Hartbeespoortdam. Dié saak word op 25 Augustus hervat.
Nog ’n gunsteling op die kortlys is mnr. M.D. Manganye, ’n senior polisielid.
’n Senior Tshwane-amptenaar wat nou betrokke is by die proses, het gister gesê Tshwane speel met vuur.
“Net een kandidaat op die kortlys, me. Pinkie Mathabathe, voldoen aan al die wetlike vereistes om dié belangrike pos te beklee.”
Mathabathe neem in dié pos waar sedert die ewe omstrede komm. Mpho Mmutle vroeër vanjaar bedank het.
Mmutle is kort voor sy bedanking glo verbind met ongerymde transaksies wat aangegaan is met betrekking tot Tshwane se sogenaamde Tetra-tender van meer as R100 miljoen.
Mmutle is vort en niks het sedertdien van dié aantygings gekom nie.
Die Ekurhuleni-metroraad het McBride in 2008 die trekpas gegee.
Die raad het vroeër vanjaar besluit om ook nie meer die regskoste te betaal vir die hofsake waarby McBride betrokke is nie.
Dié sake het Oos-Randse belastingbetalers toe reeds meer as R10 miljoen uit die sak gejaag.
McBride het gister gesê hy wil nie nou kommentaar lewer nie.
Adv. Trish Armstrong van die nasionale forum vir metropolisiehoofde het gesê benewens Mathabathe voldoen McBride ook aan die vereistes aangesien hy steeds ’n geregistreede en gekwalifiseerde metropolisielid is.
Armstrong het gesê dit is McBride se reg om aansoek te doen om die pos.
“Enigeen is onskuldig totdat die teendeel bewys word.”
Sy het gesê die voorskrifte wat aanstellings in die metropolisie reguleer (reël 11) bepaal duidelik dat net ’n metropolisielid aangestel mag word.
“’n Lid van die polisie mag dus nie oorweeg of aangestel word nie.”
Me. Bongi Lehobye, Tshwane se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, het gister gesê die name op die lys is vertroulik en kan nie met die media bespreek word nie.
Me. Karen Meyer, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, het gesê die party is oorbluf en verstom dat McBride enigsins as kandidaat oorweeg word.
“Ons is baie bekommerd hieroor. Wat gaan gebeur as hy die pos kry en later skuldig bevind word?”