Meyer: Bulle, Saru haaks
2012-01-25 21:44
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die Blou Bulle en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het gister koppe gestamp oor Heyneke Meyer omdat albei hom wil hê.
Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) wil Meyer, hul oorhoofse baas van afrigting, nie vrystel om Springbok-afrigter te word nie.
Dit gaan die 44-jarige Meyer waarskynlik nie keer nie.
Hy gaan ’n vrywaringsklousule waaraan ’n skadevergoedingseis gekoppel is, gebruik om sy bande met die BBM te verbreek en sy groot droom na te jaag en Bok-
rugby se leisels oor te neem.
Meyer is wel nog nie aangewys as Bok-breier nie, maar die BBM het enige aankondiging van Saru voorgespring deur gisteroggend ’n verklaring uit te reik waarin hy sê hy keur nie Saru se versoek goed om Meyer beskikbaar te stel nie.
Dit het nie net vir Saru gedwing om sy eie verklaring in dié verband uit te reik nie, maar ook die wind uit die liggaam se seile gehaal oor môre se spesiale mediakonferensie waar hy Meyer aan die wêreld wou voorstel.
In die verklaring sê die BBM dat Meyer onder kontrak by hom is en in daardie pos aangestel is juis omdat hy onderneem en beloof het om Blou Bulle-rugby vir die volgende vier jaar te lei.
“Dit is dus die BBM-direksie se posisie dat dit nie in die belang van die Blou Bulle sal wees om Meyer van sy kontrak vry te stel nie, veral in ag genome die ondernemings en uitgawes wat aangegaan is om Meyer te help om sy mandaat uit te voer,” het die BBM gesê.
Saru het op sy beurt gesê Meyer is nog nie amptelik aangestel nie aangesien die aanbevelings van Saru se tegniese komitee eers kragtens sy grondwet deur die uitvoerende bestuur goedgekeur en daarna aan die algemene vergadering voorgelê moet word.
Die algemene vergadering word Vrydag gehou om finaal oor ’n opvolger vir Peter de Villiers te besluit.
Volgens Louis Nel, voorsitter van die BBM se direksie en president van die Blou Bulle Rugbyunie, was dit ’n beginselbesluit en hy meen nie die feit dat hulle vasskop, sal betrekkinge tussen die BBM en Saru versuur nie.
Hy het wel toegegee dat sommige mense negatief kan reageer op dié besluit, maar gesê die BBM gaan nie verder kommentaar lewer nie.