‘Min matrieks gaan werk kry’
2011-01-04 22:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Net 40% van matrikulante wat die arbeidsmark direk ná matriek gaan betree, sal werk kry.
Die res sal waarskynlik deel van die donker werkloosheidstatistieke in die land word, het die vakbond Solidariteit gister gesê.
Solidariteit het in ’n verklaring gesê dié probleem kan toegeskryf word aan die onindiensneembaarheid van die meeste matrikulante wat op skool nie werklik vir die arbeidsmark toegerus word nie.
’n Jaarlikse studie oor vooruitsigte vir matrikulante het soos die vorige twee jaar beklemtoon dat dit weer ’n moeilike jaar vir Suid-Afrikaanse werknemers en werksoekers sal wees.
Mnr. Dirk Hermann, uitvoerende adjunkhoof van Solidariteit, het gesê werkgeleenthede sal steeds beperk wees.
Diegene wat die arbeidsmark wel sal betree, sal met die werklikheid gekonfronteer word en bereid moet wees om heel onder aan die beroepsleer te begin.
Skoolopleiding bied skoolverlaters volgens hom nie werklik die toerusting om die arbeidsmark suksesvol te betree nie.
“Daarbenewens is die slaagsyfer in vakke soos wiskunde, rekeningkunde en fisiese wetenskappe wat juis tot indiensneembaarheid bydra, baie swak.”
Luidens die verslag bou die meeste matrikulante nie in hul skoolloopbaan bedrewenheid in kritiek belangrike vakke soos wiskunde op nie.
Van die meer as 552 000 matrikulante wat in 2009 matriek geskryf het, het 60,6% geslaag. Net 24,2% van dié matrikulante, oftewel 133 789, het wiskunde geslaag – met 30% of meer.
Net 9,6% (52 866) kon dit met 50% of meer deurkom.
’n Skamele 1,6% van matrikulante kon ’n onderskeiding in wiskunde behaal.
Hermann het voorts gesê die laagste eenvoudige gemiddelde slaagpunt van 30% wat ’n kandidaat in ’n vak kan behaal, laat talle vrae oor die uiteindelike waarde van die matrieksertifikaat ontstaan.
“’n 18-jarige word ’n onreg aangedoen wanneer hy vertel word dat hy gekwalifiseerd is vir enige studie of geskoolde werk op grond van ’n 30%-afsnypunt.
“Die matrikulant word op die skouer geklop omdat hy die onderwysdepartement se statistieke goed laat lyk met sy deelname aan ’n stelsel van middelmatigheid. Eintlik laat dit hom met 12 vermorste jare en ’n agterstand wat bitter moeilik is om in te haal.”
Hermann het daarop gewys dat verdere opleiding die beste moontlike kans op vermyding van werkloosheid bied.
“Studies toon dat werknemers met ’n tersiêre kwalifikasie die beste teen die uitwerking van die afgelope arbeidsresessie beskut was.”
Volgens hom het arbeidsmarkdata van 2007 ook getoon ’n universiteitsgraad beteken in die algemeen meer as ’n diploma of ander tersiêre kwalifikasie.
Beroepe in ’n mediese, ingenieurs-, inligtingstegnologie-, finansiële en tegniese rigting is veral gesog weens tekorte daar.