Minister van sport voeg daad by woord
2012-02-19 22:08
Mnr. Fikile Mbalula, minister van sport en ontspanning, het die naweek ’n 21 km-oefenroete saam met fietsryers aangepak ter voorbereiding van sy deelname aan die Cape Argus Pick n Pay-fietswedren.
Mbalula het gewys hy skrik nie vir ’n bietjie sweet nie toe hy reeds 06:00 aangemeld het vir die oefensessie.
Die minister het sowat 10 km afgelê, het mnr. Fehrard de Nicker, woordvoerder van die I Play Fair-veldtog, gesê.
Mbalula het gesê hoewel hy jare laas fiets gery het en skrikkerig is, sien hy steeds kans vir die uitdaging.
“Met ons deelname aan die fietswedren wil ons wys dat ons goeie prestasies deur ons atlete in alle sportsoorte ondersteun, maar ons wil nie hê hulle moet onwettige middels gebruik om goed te vaar nie,” het Mbalula gesê.
Volgens hom belê die regering baie geld in sport en onbetwiste oorwinnings en ’n gesonde leefstyl moet die vrugte daarvan wees. Die minister is lid van die I Play Fair-span, wat teen dwelmmisbruik gekant is.
Die span bestaan uit 25 fietsryers wat op Sondag 11 Maart aan die Argus deelneem.
“Ek neem ook deel aan die fietswedren omdat dit gesond is,” het die minister bygevoeg.
Volgens Mbalula wil hy nie net praat nie, maar daad by die woord voeg.
Hy is egter nie seker of hy die wedren se roete van 110 km gaan voltooi nie.
- Me. Helen Zille, DA-leier, is ook hard aan die oefen om aan die Argus deel te neem.

Mnr. Fikile Mbalula, minister van sport en ontspanning (regs), sy raadgewer, mnr. Max Fuzani (links), en mnr. Johan Labuschagne, direkteur van die Cycle Lab-fietswinkel, oefen die naweek by die Lynnwood Bridge-winkelsentrum in Pretoria voordat hulle die pad aandurf.
Foto: ALET PRETORIUS

Die minister van sport en ontspanning, mnr. Fikile Mbalula, lei die fietsryers van verskeie klubs in Gauteng met die hulp van mnr. Johan Labuschagne, direkteur van Cycle Lab-fietswinkel.
Foto: ALET PRETORIUS