Moord by Sun City net voor Fifa-konferensie
2010-02-16 23:04
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Linda de Beer en Retha Grobbelaar
Sun City se bestuurder van openbare betrekkinge is vermoor gevind in haar woonstel by dié oord net voor die begin van ’n internasionale mediese konferensie van die sokkerbeheerliggaam Fifa.
Me. Colleen van Eyk (60) is vermoedelik Sondagnag dood nadat sy met ’n telefoonkabel gewurg en haar kop herhaaldelik teen ’n muur gestamp is, het supt. Lesego Metsi, polisiewoordvoerder in Noordwes, gesê. Die motief vir die moord is onbekend.
’n Werknemer van Sun City het eergister op Van Eyk se lyk afgekom waarna die polisie ontbied is. Geen tekens van gedwonge toegang tot die woonstel is glo gevind nie.
Sy was vermoedelik besig om ’n boek te lees toe sy aangeval is.
Die Fifa-konferensie begin eerskomende Vrydag en duur tot Sondag. Dit sal na verwagting bygewoon word deur onder andere die fisioterapeute van al 32 spanne wat aan die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Suid-Afrika deelneem. Die konferensie word opgevolg deur ’n spanwerksessie (ook by Sun City) wat deur van die nasionale spanne se afrigters bygewoon sal word.
Fifa wou nie gisteraand kommentaar op die moord lewer nie.
Sun International het gistermiddag in ’n verklaring gesê Van Eyk het sedert 1992 vir die maatskappy gewerk.
“Haar dood is baie ontstellend vir ons almal. Ons wil ons innige medelye met haar familie uitspreek. Ons verseker hulle dat ons baie nou saam met die polisie sal werk om seker te maak haar dood word volledig ondersoek,” lui ’n verklaring.
- Beeld