Moord op Pta-vrou: nog ’n lyk gekry
2010-10-07 23:22
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n Man wat sy werkgewer glo in die kop geskiet het, word ook gesoek weens die moord op ’n man wat saam met hom in haar tuin gewerk het nadat dié se ontbindende lyk etlike dae later in ’n vraghouer gevind is.
Ao. Louis de Bruin, polisiewoordvoerder, het gister gesê ’n lasbrief is vir mnr. Nyasha Mabure (19) se arrestasie uitgereik nadat hy me. Christa du Toit na bewering drie weke gelede in haar huis in Swacinapark, op die Uitzicht-hoewes in die weste van Pretoria, vermoor het.
Hy word ook daarvan verdink dat hy mnr. Piet Mothwa (27) vermoor het.
Volgens De Bruin het Mothwa dié noodlottige oggend vir werk opgedaag.
Kort daarna het Du Toit vermoedelik die hek vir Mabure, wat saam met Mothwa in haar tuin gewerk het, oopgemaak.
Mabure het Du Toit glo in die kop geskiet waarna hy haar vriendin mev. Mickey Coetzee (48) en haar huiswerker, me. Maurine Mambo (30), glo aangehou het.
Hy het die twee vroue glo gedwing om vier keer bo-oor Du Toit se lyk te klim en het die lyk elke keer geskop. Hy het Coetzee glo ook verskeie kere met die vuis in die gesig geslaan voordat hy gevlug het.
De Bruin het gesê Mothwa was ná die aanval net weg.
Mnr. André du Plessis (54), Du Toit se verloofde, het gister gesê sy bulhond het sedert die aanval “mal geword om die vraghouer”.
Verlede Dinsdag het Mambo gekla iets stink vreeslik buite.
Sy en Coetzee het die oorsaak van die stank vergeefs gesoek.
Du Plessis het eergister mense gekry om die heining te herstel.
“Toe hulle by die motorhuis stilhou en uitklim, het die een dadelik gesê iets stink,” het Du Plessis gesê.
Toe die hond in die vraghouer inhardloop, het een van die herstelspan die deur oopgemaak.
Mothwa se lyk is agter stoele in die vraghouer gevind.
Die polisie het inligting gekry dat Mabure in die omgewing van Daveyton aan die Oos-Rand is.
- Mense wat Mabure gewaar, word gevra om ao. Martin Smit, ondersoekbeampte, te bel by 082 778 9385 of 012 377 4100.