Morné Steyn bied aan om Bafana uit te help
2010-03-31 22:25
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die Springbokke en Bulle se kookwaterlosskakel Morné Steyn (25) wil sy skopskoen op die sokkerveld toets.
“Ek draai beslis nie my rug op rugby nie, maar 2010 is Bafana en sokker se jaar,” het Steyn gister uit Auckland in Nieu-Seeland gesê, waar hy saam met die Bulls toer.
“Die Bokke het in 1995 in die Wêreldbeker-rugby gewys wat sport vir ’n land kan doen. Ek was te jonk om te speel. Nou is dit my kans. Ek bied graag my dienste aan ons sokkerspan aan.”
Steyn het gesê hy is beskikbaar as doelskieter vir Bafana ná die Super14-eindstryd op 29 Mei.
As die Bulls wen, word die eindstryd gespeel by die Orlando-stadion in Soweto omdat Fifa dan reeds die bestuur van Loftus
Versfeld oorgeneem het.
Beeld het op 14 Januarie berig die nuutgestigte Tshwane-sportraad oorweeg dit om die madeliefie – die tradisionele sportsimbool van die streek – die trekpas te gee en die Bulle se blou dalk met wit, swart, geel en groen te vervang.
So ’n versoek is weer verlede week op ’n geslote vergadering in Centurion oorweeg, is verneem.
Dié gekarring aan rugbysimbole, saam met die “histerie” oor WB 2010, het Steyn se kop gedraai: “Rugby kan nie altyd eerste kom nie. Ek het nou die dag die Bafana-trui vir die eerste keer oor my kop getrek en gedink dit voel goed.”