Net in SA sterf meer in moorde as op paaie
2012-02-06 22:03
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Suid-Afrika is die enigste land ter wêreld waar die moordsyfer hoër as die padsterftesyfer is.
Volgens mnr. Kerwin Lebone, navorser aan die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV), is die internasionale tendens dat die padsterftesyfer gewoonlik veel hoër as die moordsyfer is.
Volgens die SAIRV se navorsing is 13 803 mense in die 2010-’11-boekjaar in botsings op Suid-Afrikaanse paaie dood, terwyl 15 940 mense in dieselfde tyd vermoor is.
Dít beteken daar is in dié tyd sowat 32 mense per 100 000 vermoor en sowat 28 per 100 000 het in padongelukke gesterf.
Die enigste uitsonderings is in Limpopo en Mpumalanga.
In dié twee provinsies is die padsterftesyfer dubbel so hoog as die moordsyfer.
“Suid-Afrika het die tweede ergste moordsyfer in vergelyking met 190 wêreldlande.
Die twee lande met die hoogste moordsyfers is gesamentlik Jamaika en Honduras, waar daar jaarliks 60 mense per 100 000 vermoor word.”
Volgens Lebone het die moord- en padsterftesyfers hier die laaste vyf jaar met onderskeidelik 17% en 11% afgeneem.
Dít beteken daar word gevorder in die stryd teen misdaad en padsterftes, maar in vergelyking met die res van die wêreld kan Suid-Afrika nog nie tevrede wees nie.
Volgens hom is die padsterftesyfer in die VSA drie keer hoër as die moordsyfer en in Pole tien keer hoër.