Net oor hy wit is, gaan hy nie gouer behandel word
2009-12-10 08:17
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die dokter het gesê hy moet sy beurt afwag. Toe sterf dié jong sanger van Vanderbijlpark en was sy pa se verbete pogings om mond-tot-mond-asemhaling toe te pas vergeefs.
“Al wat ek nog kon doen, was om my seun vas te hou en te huil,” sê mnr. Riaan van Niekerk (42), pa van die 20-jarige Adriaan van Niekerk wat sy lewe ná ’n motorfietsongeluk verloor het. Adriaan, wat saam met sy pa by onder meer kunstefeeste landwyd opgetree het, het vier uur voor sy dood op 29 November met sy rooi Discovery-motorfiets teen ’n boom in Rossini-boulevard in Vanderbijlpark vasgery. Sy pa glo Adriaan sou nog gelewe het as hy nie “sy beurt moes afwag” soos die dokter dié nag gesê het nie.
“Hy het gesê hy gaan Adriaan nie vinniger behandel omdat hy ’n blanke is nie.”
Van Niekerk sr., sy vrou, Annalie (39), en hul twee dogters, Michelle (11) en Annalien (2), was kort ná die ongeluk by die ongevalle-afdeling en het “met die intrapslag die dokter se swak diens beleef”.
“Die dokter het aan Netcare 911-paramedici gesê hulle moet hom nie vertel hoe om sy werk te doen nie, toe hulle hom vra om dadelik die ernstig beseerde Adriaan te behandel nie,” het Van Niekerk sr. gister gesê.
Volgens hom het die paramedici vermoed Adriaan se pelvis is gebreek en sy laerug is moontlik baie erg beseer.
“Pa, waar is my bene?” het Adriaan gevra toe hy bykom.
Adriaan het kort daarna gesê hy kry nie asem nie en sy pa het die dokter gesmeek om te help.
“Die dokter het gesê Adriaan moet sy beurt afwag,” het Van Niekerk sr. gesê.
Die woedende pa is hierna deur die polisie na buite begelei.
Hy het sy vrou en twee dogters huis toe geneem, maar was binne ’n uur terug by die hospitaal.
Hy het Adriaan by die X-straal-afdeling gaan soek, deur ’n skuifdeur geloer en gesien sy seun haal nie asem nie. “Twee verpleegsters het met my gestry toe ek hulle sê hulle neem X-straalfoto’s van my kind wat nie asemhaal nie,” het hy gesê.
Hy het Adriaan se lewe wanhopig probeer red, maar hy het oomblikke later twee keer diep asemgehaal voordat sy oë omgedop en daar bloed by sy mond uitgeloop het.
Die dokter het, volgens die pa, slegs Adriaan se een oog oopgemaak en gesê: “Hy is weg.”
“As die dokter net besef het ons wil nie eerste behandel word omdat ons blankes is nie, maar omdat my seun dringend hulp nodig het, het hy nou dalk nog gelewe,” het Van Niekerk sr. gesê.
Dr. Joe Khoali, waarnemende bestuurshoof van die Sebokeng-hospitaal, het gister gesê die bewerings word ondersoek en hulle vergader binnekort met die Van Niekerk-egpaar.