Net wit mense mag glo hier ‘lekkerrus’
2011-01-19 22:10
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
’n Rasherrie het losgebars nadat ’n bruin gesin verlede maand glo toegang geweier is by die Klub Lekkerrus-vakansie-oord buite Mookgophong (Naboomspruit) in Limpopo.
The Times het gister berig mnr. Adam Morgan en sy gesin wou ’n dag by dié vakansieoord, wat veral bekend is vir sy warmwaterbronne, deurbring toe hulle glo nie toegelaat is nie. Die Morgan-gesin het twee minderjarige kinders.
’n Ontvangsdame het glo aan hulle gesê hulle word nie toegelaat nie omdat hulle nie klublede is nie.
’n Bruin en ’n swart verslaggewer van The Times is Maandag egter ook toegang tot die klub geweier.
Daar is ook aan hulle gesê hulle moet eers ’n lidmaatskap-aansoekvorm invul. ’n Ontvangsdame het glo gesê sy sal die vorms vir hulle faks.
’n Wit fotograaf, wat saam met hulle was, kon egter onmiddellik ’n aansoekvorm invul.
Terwyl die twee verslaggewers toegang geweier is, het vier motors met wit insittendes toegang tot die oord gekry sonder dat na hul lidmaatskap gekyk is, berig The Times.
Ds. Gert Coetzer, voorsitter van die raad van trustees van Klub Lekkerrus-vakansieoord, het geweier om gister aan Beeld te sê of hulle swart, bruin of Indiër-lede het.
“Ek is nie bereid om dit met jou oor die telefoon te bespreek nie,” het Coetzer, wat in Nigel woon, gesê.
Coetzer het gesê hy sal dit bespreek as Beeld ’n afspraak met hom maak en “in persoon oor ’n koppie koffie daaroor gesels”. Hy het die berig in The Times as “infame leuens” afgemaak.
“Ons is ’n geslote private klub.
“Ons weier niemand op grond van kleur nie. Dit gaan nie oor kleur nie, maar oor lidmaatskap,” het Coetzer gesê.
Mnr. André Volschenk, oordbestuurder, het gister navrae na Coetzer verwys omdat hyself glo swak selfoonopvangs gehad het.
Dit is nie die eerste keer dat bewerings van rassisme kop uitsteek by die klub nie. Beeld het in September 2004 berig oor ’n driejarige bruin meisie wat saam met haar wit pleegouers gevra is om die oord te verlaat.
Die pleegpa was ’n lid van die klub, maar hy en sy vrou is gevra om die oord te verlaat nadat hulle met die meisie daar opgedaag het.
Hulle het die saak by die Menseregtekommissie (MRK) aangemeld, maar later besluit om nie daarmee voort te gaan nie omdat hulle die pleegkind nie wou blootstel nie.
Me. Desiree van der Walt, DA-leier in Limpopo, sê dit is kommerwekkend en ongehoord dat sulke voorvalle in die Nuwe Suid-Afrika voorkom. Sy sê die klub moet hul beleid van private toelating duidelik maak.
“Limpopo is ’n provinsie met ’n ryke diversiteit en ons moet akkommoderend teenoor mekaar wees.”