Niekie terug, Lourie brom
2012-02-01 22:47
Kaapstad. – Mnr. Niekie van den Berg is terug in die DA se skimkabinet, maar mnr. Lourie Bosman het die landbouportefeulje verloor.
Bosman, voormalige president van Agri SA, het in reaksie op die verandering gesê: “Ek sal my bes doen as adjunk oor hoër onderwys, maar ek is ontevrede en ek is nie die enigste een nie.”
Me. Lindiwe Mazibuko, leier van die opposisie, het die nuwe skimkabinet gister by die parlement aangekondig.
Net ses LP’s is onveranderd in hul portefeuljes gelos.
Mnr. Athol Trollip, voormalige parlementêre DA-leier, het soos verwag die taai portefeulje van landelike ontwikkeling en grondhervorming by Mazibuko oorgeneem.
Verskeie van sy ondersteuners in verlede jaar se leierstryd teen Mazibuko het prominente poste gekry. Me. Dene Smuts behou justisie.
Drie parlementslede van me. Patricia de Lille se OD is in die skimkabinet.
OD-lede het dubbele lidmaatskap met die DA, maar omdat oorlopery deur die Grondwet verbied word, moet hulle tot 2014 as OD-LP’s in die parlement sit.
Van den Berg het die kommunikasieportefeulje in die vorige skommeling verloor, maar kry nou kuns en kultuur.
Bosman, wat spesifiek in 2009 as LP gewerf is danksy sy kundigheid in die landbou, is vervang deur me. Annette Steyn.
Soos Bosman het sy Trollip verlede jaar openlik in die parlementêre leierstryd ondersteun.
Bosman het gesê sy weglating is ’n verrassing en het sonder ’n gesprek met Mazibuko gebeur.
“Die toepassing van die geskiktheidsbeginsel by die toedeling van poste is vir my onduidelik. Ek verteenwoordig derduisende DA-kiesers in die georganiseerde landbou en geniet die vertroue van die landboukorps.
Ek het my minister (me. Tina Joemat-Pettersson) in ’n hoek en sy is aangekla by die openbare beskermer. My loopbaan-assessering in die DA was nog altyd uitstekend.
Kundigheid oor die ekonomie, internasionale markte, siektebeheer, produksie-omstandighede en landboupraktyk is noodsaaklik, maar nou is ek uitgeskop.”
Mazibuko het gesê so ’n proses is altyd taai en sommige sal teleurgestel word.
“Ek gee mnr. Bosman se punt toe dat hy as kundige gewerf is. Sy rol in sy portefeulje die afgelope twee en ’n half jaar moet egter ook verreken word en dit is gedoen.
Ek sien uit na ’n gesprek met hom en ek is opgewonde dat ons nuwe span, onder andere Annette Steyn in landbou, uitstekend gaan vaar.”
Nuwe DA/OD-skadukabinet
Nog aanstellings wat gister bekend gemaak is, sluit in:
Arbeid: Sej Motau
Basiese onderwys: Annette Lovemore
Begrotings: Marius Swart
Binnelandse sake: Manny de Freitas
Ekonomiese ontwikkeling: Haniff Hoosen (OD)
Energie: Lance Greyling (OD)
Finansies: Tim Harris
Gesondheid: Patricia Kopane
Handel en nywerheid: Wilmot James
Hoër onderwys en opleiding: Annelie Lotriet
Internasionale betrekkinge en samewerking: Ian Davidson
Kommunikasie: Marian Shinn
Korrektiewe dienste: James Selfe
Maatskaplike ontwikkeling: Mike Waters
Huisvesting: Stevens Mokgalapa
Minerale: James Lorimer
Ministers in die presidensie: Joe McGluwa (OD)
Openbare ondernemings: Natasha Michael
Openbare werke: Anchen Dreyer
Polisie: Dianne Kohler Barnard
Presidensie: Lindiwe Mazibuko
Samewerkende regering en tradisionele sake: John Steenhuisen
Sport en ontspanning: Winston Rabotapi
Staande komitee oor openbare rekeninge: Dion George
Staatsdiens en administrasie: Kobus Marais
Staatsveiligheid: Lennit Max
Toerisme: Stuart Farrow
Vervoer: Ian Ollis
Verdediging: David Maynier
Vroue, kinders en gestremdes: Helen Lamoela
Waterwese en omgewingsake: Gareth Morgan
Wetenskap en tegnologie: Junita Kloppers-Lourens