Nog 2 eis van kykNET
2012-02-06 22:03
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die aktrise en kabaretster Elzabé Zietsman eis R250 000 van kykNET, vervaardiger van die skinderprogram Tonge los, en al drie aanbieders van die program weens beweerde laster.
Haar suster het ’n soortgelyke eis ingestel.
Dit het verlede week aan die lig gekom dat die rolprentvervaardiger FC Hamman en sy vrou, Annie, kykNET en mnr. Christo Gerlach vir R2 miljoen gedagvaar het weens bewerings op Tonge los dat mev. Hamman ’n pornografiese webwerf bedryf.
Gerlach, van Red Line Pictures, was die vervaardiger van die reeks.
’n Dagvaarding waarin Zietsman onder meer aanvoer die indruk is in Tonge los gewek dat haar seksuele voorkeure “wisselvallig van aard is”, is reeds uitgereik.
Haar suster, me. Martie Schoeman van Mosambiek, eis R100 000 van dieselfde partye as Zietsman, ook weens beweerde laster en skending van privaatheid.
Die program waaroor die eis gaan, is op 12 Februarie 2010 uitgesaai.
Volgens die dagvaarding het die drie aanbieders – Loui Fish, Eagan Williamson en Gavin Prins – gesê Zietsman sou as surrogaatma vir haar suster opgetree het, maar dat dit nie gebeur het nie omdat hulle ’n uitval gehad het.
Luidens die dagvaarding was die uitval “omdat Zietsman se leefstyl nie goed genoeg was om Schoeman se kind te dra nie”.
Die aanbieders het onder meer ook gesê die akteur Arnold Vosloo was 20 jaar gelede “die groot liefde” van Zietsman se lewe, dat sy nooit daaroor gekom het nie en dat Zietsman geen ander liefde kon vind nie, lui die dagvaarding.
“’n Mens hoor nooit dat sy ’n boyfriend of ’n girlfriend het nie,” is glo onder meer op Tonge los gesê.
Luidens die dagvaarding het Zietsman en Schoeman se reputasies skade gely en is hulle in hul eer gekrenk.
Zietsman eis R250 000 omdat die program volgens haar suggereer dat sy ’n swak leefstyl volg wat haar onbevoeg maak om kinders te dra, dat daar familietwis tussen haar en haar suster is en dat haar seksuele voorkeure wisselvallig van aard is.
Schoeman eis R100 000 weens die beweerde aantasting van haar reputasie en weens eerkrenking.
Zietsman sou nooit vir haar ’n surrogaatma wees nie, maar wel vir haar dogter.
Zietsman het gistermiddag gesê: “Die uitsending het my geweldig kwaad aangedoen.” Sy wou nie verder reageer nie.
Mnr. Willem de Klerk, prokureur wat optree namens Gerlach, Fish, Williamson en Prins, het gesê hy vind dit vreemd dat die saak nou weer herleef nadat hy al ’n jaar gelede teen die dagvaarding eksepsie gemaak het en intussen nog niks gehoor het nie.
“Ons beveg die eis.”
Mnr. Coenie Kukkuk, Zietsman se prokureur, het gesê die rede vir die vertraging is omdat Zietsman betrokke was by ’n nierskenking aan Schoeman se dogter.
Die uitsending van Tonge los is intussen reeds gestaak.