Hoewel Thomas Ferreira goeie vordering toon, gaan dit twee jaar
duur voordat die langtermyneffek van sy breinbesering vasgestel kan word.
Thomas (19), ’n matrikulant van Krugersdorp, is op 5 November
verlede jaar op sy motorfiets deur mnr. Humphrey Mmemezi, LUR vir plaaslike
regering en behuising, se ampsmotor omgery.
Hy het ’n traumatiese breinbesering opgedoen en was weke lank in ’n
diep koma. Hy is in Desember na die Riverfield Lodge-rehabilitasiesentrum in
Fourways, Johannesburg, oorgeplaas waar hy tans aansterk.
Dr. Kris Mon, Thomas se dokter by die sentrum, het gesê hy het
beserings aan albei frontale lobbe van sy brein.
“Daar kan blywende gevolge wees vir sy verdere opvoeding en
loopbaan, maar dis nog te vroeg om met sekerheid vas te stel.
Dit kan sy
intellektuele en kognitiewe vermoëns beïnvloed.”
Hy meen egter Thomas se vordering is “meer as bevredigend”.
“Mense met so ’n besering ervaar gewoonlik probleme met hul geheue
en konsentrasievermoë en vind dit moeiliker om ’n gesprek te begin of daaraan
deel te neem. Hulle kan egter steeds suksesvol wees.”
Volgens Mon herstel sowat 37% van hul pasiënte in so ’n mate dat
hulle kan teruggaan werk toe.
“Toe hy hier aangekom het, kon hy nie eet, regtig beweeg of praat
nie, wat dit baie moeiliker maak omdat hy nie sy behoeftes kon oordra nie,” het
me. Charmaine Archary, bestuurder van die neuro-eenheid, gesê.
“Nou kan hy ’n bietjie loop, homself voer en praat. Hy kan egter
nog nie aksies inisieer nie, so al kan hy byvoorbeeld sy tande borsel, moet ’n
mens vir hom sê om dit te doen.
“Hy raak partykeer baie gefrustreerd.”
“Dit hang af van sy bui,” het me. Jacquiline Groenewald,
verpleegbestuurder, bygevoeg.
“As hy in ’n goeie bui is, sal hy vinniger vorder, maar in ’n
slegte bui, is dit twee treë terug.”
Thomas is tans impulsief en benodig nog baie toesig, taamlik tipies
van dié soort breinbesering.
Me. Sophia Combrink, ’n kliniese sielkundige by die
rehabilitasiesentrum, het gesê Thomas is tans nog nie eintlik bewus van sy
omgewing nie.
“Soos hy meer bewus raak, kan ’n mens verwag dat hy angstig sal
voel.”
Volgens Combrink is haar rol om te kyk na die emosionele impak van
so ’n besering op ’n pasiënt sowel as sy algemene kognitiewe
funksionering.
Die impak op die pasiënt se familie is “fenomenaal”.
“Daar is soms persoonlikheidsveranderinge. ’n Mens sien dikwels dat
die persoon meer kortaf is en makliker geïrriteerd raak.
“Hul emosies is minder gereguleer. Die familie self gaan ook deur
’n traumatiese episode. Die kerk en vriendekring speel hier ’n rol.”
Lees ook
"Om alles weer self te doen"