Hy is nou kláár met vandag se
fisioterapiesessie.
Thomas Ferreira staan met ’n vasbeslote uitdrukking van die
terapiebed op en gaan sit in sy rolstoel.
“Tommy, ons is nog nie klaar met ons oefeninge nie. Bly op die
bed,” sê mnr. Joseph Malema, sy fisioterapeut.
Thomas is egter niks lus nie en begin om sy rolstoel se voet-ruste
terug te vou en sy voete daarop te sit.
Terwyl Malema aan Beeld se verslaggewer verduidelik
hoe die terapiesessies werk, rus sy regterhand op die rolstoel se een wiel. Met
’n besliste gebaar lig Thomas Malema se vingers een vir een van die wiel af op
en ry agteruit by die deur uit.
Beeld is by die Riverfield
Lodge-rehabilitasiesentrum in Fourways, waar die 19-jarige Thomas behandel word
nadat hy op 5 November in ’n ernstige ongeluk was en ’n breinbesering opgedoen
het.
“Die pasiënte kom met aangetaste fisieke vermoëns hierheen en ons
moet hulle help om so onafhanklik moontlik te wees,” verduidelik Malema.
“Thomas vaar besonder goed, maar hy is nog nie heeltemal
georiënteerd nie en daarom het hy steeds toesig nodig. Sy bewegings is nog nie
reg nie: Hy kan byvoorbeeld nie altyd die tydsberekening daarvan beheer nie. Dis
gevaarlik vir hom en hy kan val.”
Me. Jacquiline Groenewald, verpleegbestuurder, verduidelik dié
gedrag is tipies van ’n pasiënt met ’n breinbesering. Hulle raak gou moeg
en gefrustreerd en hul aandag word makliker afgetrek.
’n Uur en ’n half later lyk Thomas heelwat gelukkiger tydens sy
arbeidsterapiesessie.
Hy en me. Bronwyn Ross, sy terapeut, gooi eers ’n bal heen
en weer en toe speel hulle kringetjies-en-kruisies. Thomas moet die merkers een
vir een op ’n speelbord pak. Hoewel hy regshandig is, verkies hy om sy
linkerhand te gebruik omdat sy regterarm in die ongeluk gebreek is.
“Haai, nee meneer, gebruik die regterhand!” sê Ross terwyl sy sy
linkerhand vashou.
Thomas moet ook ’n stuk klei in ’n wurm rol, dit tussen sy duim en
voorvinger vasknyp en stukkies daarvan in balletjies rol en langs mekaar
pak.
“Ons help die pasiënte om hul funksionele onafhanklikheid terug te
kry,” verduidelik Ross.
“Hulle moet self kan eet, was en tande borsel. Die bewegings wat
ons oefen, bou op tot die handvaardighede wat hy nodig het om sy kos in stukkies
te sny en sy hempsknope vas te maak.”
Ná middagete oefen hy woorde saam met me. Cecilia Marx, ’n
spraakterapeut. Hy kan taamlik maklik tot by 20 tel en met ’n bietjie meer
moeite tot by 30.
Die dae van die week sê hy ook vlot op en glimlag breed.
“Mooi!” sê Marx.
Sy werk aan sy ekspressiewe taal (wat hy sê), sowel as sy
reseptiewe taal (wat hy verstaan), verduidelik sy. Die terapie sluit ook lees-
en skryfvaardighede in.
Volgens haar sukkel hy nog met kategorisering. Tydens die sessie
ruil hy ook soms woorde en klanke om.
“Hy weet wat hy wil sê, maar sy mond kan nie byhou nie. Hy sukkel
om klanke te beplan. Hy kan ook nie self hoor as hy iets
verkeerd sê nie, maar
hy sal dit regmaak as ek hom korrigeer.
“En hy wil altyd werk.”