Oudste Tukkie by mylpaal
2012-02-07 22:27
Die oudste lewende lid van Tuks Alumni, die Universiteit van Pretoria (UP) se vereniging van oudstudente, vier vandag haar 100ste verjaardag in die Susan Strijdom-tehuis in Pretoria.
Me. Tilly Fick is ’n erelid en erepresident van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) nadat sy meer as 50 jaar lid was. Sy het ook in die hoofbestuur gedien.
“Dit het nooit vir my gevoel asof tyd stadig verbygaan nie. Voor ’n mens weet, is jy oud,” het Fick gesê.
Sy is in 1912 in Bafokeng in Noordwes gebore as die kleindogter van ’n Duitse sendeling van die Lutherse kerk. Toe sy skool toe is, kon sy aanvanklik net Duits en Tswana praat.
Haar Afrikaans-onderwyser het egter by haar ’n liefde vir Afrikaanse literatuur gekweek.
Fick het in die depressiejare in die 1930’s huishoudkunde aan die UP gestudeer en is later ook tot lid van die studenteraad verkies.
“Daardie tyd was ons maar net 1 000 studente,” vertel Fick.
Sy onthou haar kys met die “linker-binnesenter” van die universiteit se eerste rugbyspan nog goed.
“Ek was van jongs af al lief vir rugby en het ná my man se dood vele kere in ’n vriend se losie rugby op Loftus gaan kyk.”
Nadat sy haar graad verwerf het, het sy haar toegespits op die huishoudelike opleiding van vroue in landboustreke.
“Ons het baie gereis en daar is seker nie ’n dorpie of plek in die land wat ek nog nie gesien het nie.”
Fick het aangesluit by die SAVF nadat sy en haar oorlede man, mnr. Johan Christiaan Fick, ’n grondkundige, van Pretoria na Duiwelskloof verhuis het.
Sy het haar op die versorging van bejaardes toegespits en die eerste ouetehuis in Duiwelskloof laat bou.
Sy was steeds ten volle betrokke by die SAVF toe sy in 2008 as 96-jarige in die Susan Strijdom-tehuis ingetrek het.
In dié stadium was sy voorsitter van die tehuis.
“My ma het altyd presies geweet wat sy wil hê en haar ten volle daarop toegespits. Sy is ’n perfeksionis,” het haar seun, Johan (65), gesê.
Haar dogter, me. Hildemarie Jansen (62), beaam dit en sê daar is vir haar ma net een manier: die regte manier.
Tuks Alumni sal vandag by ’n geleentheid ’n geskenk aan Fick oorhandig.
Oudste Tukkie by mylpaal