Paartjie opgekap, ‘flenters gesteek’
2011-02-10 01:22
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Haar broer en sy vriendin is “flenters gesteek” en met ’n graaf opgekap.
“Die graaf het nog daar naby gelê,” het mev. Mabel du Plessis (61) van Silverton, Pretoria, gister vertel.
Mnr. Deon van Staden (51) en me. Babs Strecker (73), sy vriendin, is Vrydagaand op ’n kleinhoewe in Madikwe Village in Bethanie, Noordwes, vermoor deur iemand wat hulle vermoedelik geken het.
Du Plessis het gesê haar broer, wat ingenieursmasjinerie gediens het, het in sy omgevalde stoel in die kombuis op die vloer gelê toe hy ontdek is.
“Hy was vol messteke en hy is met ’n graaf agter die kop en oor sy liggaam gekap.
“Dit lyk of Babs probeer kamer toe vlug het, want haar voete het nog in die kombuisdeur gelê en sy is ook flenters gesteek en met ’n graaf agter die kop gekap,” het Du Plessis gesê.
Sy het gesê ’n man wat by haar broer houtpale gaan aflaai het, het op hul lyke afgekom.
Mnr. Deaan van Staden (30), wat kort ná die polisie op die toneel aangekom het, het gesê sy pa en Strecker was besig om ’n bordspeletjie te speel toe hulle aangeval is.
“Hulle (die verdagtes) het met my pa se rooi bakkie, 9 mm-pistool en ander goedere en geld wat hulle uit die kluis gesteel het, gevlug.
“Daar was geen gedwonge toegang nie, wat daarop dui dat hulle vermoor is deur iemand wat hulle geken het,” het hy gesê.
“Dit wat ek gesien het, is onbeskryflik. My pa het net so in die stoel op die vloer gelê.
“Ek weet nie meer, ek weet nie meer,” het hy saggies gesê.
Du Plessis het gesê sy het Vrydagoggend nog laas met haar broer gepraat. Sy het Vrydagaand en die naweek weer gebel, maar albei se fone was af.
“Ek het mense probeer kry om na hul kleinhoewe te ry om te gaan kyk waar hulle is, maar kon niemand kry nie.
“Die misdaad is te hoog. Ons kan dit nie meer hanteer nie,” het Du Plessis gesê.
Kapt. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, het bevestig die polisie ondersoek twee sake van moord.

Vermoor: Mnr. Deon van Staden

Vermoor: Me. Babs Strecker