Padvalke hou man wat nie R100 het
2010-09-07 22:08
Die Tshwane-metropolisie het glo ’n bakkiebestuurder van ’n onderneming in Pretoria sowat twee uur lank aangehou omdat hy nie omkoopgeld van R100 gehad het nie.
Dié bewering is eergister deur mnr. Johan Bouillon, eienaar van RTS Cupboards, vir wie die bestuurder werk, gemaak.
Die bestuurder, wie se naam hy verswyg het, het hom Vrydag omstreeks 08:30 gebel en gesê die metropolisie het hom voor die tronk in Potgieterstraat van die pad laat aftrek en wil R100 hê om hom te laat gaan.
Die metropolisielede het glo aan die bestuurder gesê hulle het hom afgetrek omdat ’n remlig nie werk nie.
Hulle het toe agtergekom dat die bakkie se lisensie verval het.
Bouillon erken dít.
Hulle het toe glo aan die bestuurder verduidelik dat hy ’n R500-boete vir die remlig en R1 000 vir die lisensie wat verval het, sal moet betaal, “maar ons kan ’n plan maak”.
Volgens Bouillon het sy bestuurder gesê hy het nie R100 nie.
Hy het Bouillon toe gebel en gesê hulle wil hom nie laat gaan nie.
Bouillon het met die metropolisielede gepraat en gesê hy sal kom en hulle moet solank sy bestuurder laat gaan.
“Sowat 1½ uur later het my bestuurder weer gebel en gesê die metropolisie het sy rybewys gevat en hulle wil hom nie laat gaan voordat hulle die geld het nie.
“Toe ek uiteindelik daar aankom, het die metropolisie reeds gery,” het Bouillon gesê.
Sy bestuurder het hulle glo sy R45-kosgeld gegee voordat hulle sy rybewys teruggegee en hom laat gaan het.
Bouillon het gesê dit is verregaande dat hulle sy bestuurder vir R45 aangehou het, al was die lisensieskyf verstreke.
“Hulle vat kos uit sy mond uit.
“Ek sal my boetes betaal, maar moet net nie korrup wees nie,” het Bouillon gesê.
Volgens sr.supt. Alta Fourie, metropolisiewoordvoerder, word al sulke sake wat aangemeld word, ondersoek.
Sy het ’n beroep op motoriste gedoen om sulke gevalle aan te meld.