Pastoor ná aanddiens by kerk beroof
2012-02-06 22:02
’n Pastoor, haar man en twee jeugwerkers is Sondag ná die aanddiens by die AGS in Witfield, Boksburg, met vuurwapens aangehou en beroof.
“Toe ek hom vra: ‘Ken jy God?’, slaan hy net sy hande saam en sê: ‘I am so sorry, so sorry’,” het past. Christa Meiring gister van een van die rowers vertel.
Sy, haar man, Frans, en mnr. Morne Pieters en sy vrou, Danielle, was net ná 20:00 besig om die kerkgebou te sluit.
“Danielle het die drie eerste deur die hek sien inkom,” het Meiring gesê.
Die rowers het haar man onmiddellik met die vuurwapen teen die kop grond toe gedwing, terwyl hulle beursies, selfone en juwele geëis het.
“Hy het blykbaar gedink my sak met my Bybels in is ’n skootrekenaar, maar dit as ‘rubbish’ teruggegee. Frans het nie sy beursie by hom gehad nie, toe gryp hulle myne.
Ek sê toe hulle kan die geld vat, maar net my kaarte en beursie teruggee, wat hulle toe doen.
“Morne vra toe ook sy beursie terug en hulle gee dit toe so ewe, met sy kaarte, ook terug.”
Volgens Meiring het die hele nagmerrie so vyf tot agt minute geduur.
“Gelukkig was die diens se kollekte al in die kluis toegesluit. Ek het die sleutel van die kluis in my hand gehad, maar toe hy vra, sê ek nee, dis die huis se sleutel.
Hulle het toe die sleutel van my Hyundai Getz gevat en twee het ingeklim.
Hy kon nie lekker bestuur nie en so ruk-ruk hier aangekom, vir die derde een getoet om in te spring en hulle is by die hek uit.”