Plakkers se intrek bedreig wild
2012-01-22 21:16
’n Trop sebras kan nou die slagoffers van onwettige grondbesetting word nadat tientalle plakkershutte die laaste paar dae onwettig noord van Pretoria opgerig is.
Minstens een sebra is al dood sedert die besetting verlede week by Wallmannstal begin het.
’n Trop koedoes wat in die gebied loop, is soek nadat die plakkers hulle verwilder het.
Die besetting is vandag die onderwerp van ’n aansoek in die hooggeregshof in Pretoria nadat dié hof verlede jaar gelas het dat geen verdere onwettige besetting daar mag plaasvind nie.
Die grond is aan die Wallmannstal Communal Property Association (WPCA) gegee nadat die regering dit in 1968 van hulle weggevat het.
Hoewel die grond aan die WPCA behoort, is mnr. Richard Makhene, oud-polisiekaptein, en sy trawante glo besig om dit sonder die WPCA se toestemming teen R400 per erf aan lede van die publiek te verkoop.
Duisende mense het eergister by die stuk grond tussen Ludwig’s Roses en die militêre basis by Wallmannstal opgedaag om ’n erf te geregistreer en hul plakkershutte te begin oprig.
Mnr. Mathews Skosana, voorsitter van die WPCA, is in besit van ’n hofdokument wat gelas dat Makhene en ander nie die grond mag beset of verkoop nie.
Skosana het gesê dit is die grootste tragedie wat hy nog in sy lewe gesien het dat iemand net grond kan steel en doen wat hulle wil en daar gebeur niks met hulle nie.
Die WPCA wou die 4 000ha grond in samewerking met die Dinokeng-wildreservaat vir ekotoerisme gebruik het.
“Wat gaan nou van die diere word? Daar is klaar ’n sebra dood en dit is net ’n kwessie van tyd voordat nog wild gestroop word.”
Daar word glo vir die mense gesê die grond is deel van ’n grondeis en hulle moet die gelde vir registrasie betaal.
Toe die media met Makhene wou gaan praat, is hulle deur ’n groep mans voorgekeer en twee joernaliste en ’n kameravrou is teen mure by die gebied gestamp, geslaan en weggejaag.
Een van die mans in die groep, wat homself as mnr. Jack Makhanya voorgestel het, het verskoning gemaak vir hul optrede, maar gesê: “Julle mag nie op ons grond kom en doen wat julle wil nie.”
Mnr. Eddie Mohoebi, woordvoerder van die departement van landelike ontwikkeling en grondsake, het mense gister in ’n verklaring gewaarsku om nie grond van valse en bedrieglike verkopers te koop nie, want hulle gaan hul geld verloor en ook moontlik van die grond verwyder word.
“Daar is minstens twee onwettige aktiwiteite wat daar plaasvind: die onwettige verkoop van staatsgrond en die onwettige besetting daarvan.
“Dit is ongelukkig dat mense arm en desperate gemeenskappe so uitbuit,” het Mohoebi gesê.
Mnr. Willie Spies van AfriForum het gister gesê sy groep gaan regshulp aan die slagoffers verskaf.