Plofslag in eetplek
2012-02-02 21:43
Drie werknemers van die Mugg & Bean-restaurant in ’n Oos-Randse winkelsentrum word in die waakeenheid van ’n hospitaal behandel nadat hulle gisteroggend in ’n ontploffing beseer is.
Deskundiges van gasverskaffers aan die restaurant, brand- en plofstofkundiges van die polisie en die Ekurhuleni-nooddienste was gister byna heeldag op die toneel om te probeer vasstel wat die ontploffing in die restaurant in die Festival-winkelsentrum in Kempton Park omstreeks 07:45 veroorsaak het.
Volgens mnr. Clement Masinge, ’n woordvoerder van die Ekurhuleni-nooddienste, het hulle net ná 08:00 gister ’n oproep ontvang oor die ontploffing in die restaurant.
Daar was geen brand toe hulle daar aangekom het nie, maar die restaurant se plafon is deur die ontploffing afgeruk, het hy gesê.
Volgens Masinge is beseerdes op die toneel behandel voordat hulle na die Arwyp-hospitaal in Kempton Park gebring is.
Drie van die beseerdes is in die waakeenheid opgeneem, het me. Dori-Anne Oosthuizen, hospitaalwoordvoerder, bevestig.
Volgens Oosthuizen het hulle 23 mense behandel. Dié wat nie in die waaksaal opgeneem is nie, het net ligte beserings of skok opgedoen.
Hulle is in die buitepasiënte- en noodgevalle-afdeling behandel.
Volgens mnr. Graeme Morrison, hoofbestuurder: kroeg- en restaurant-afdeling van Famous Brands, die maatskappy wat die Mugg & Bean-franchise beheer, lyk dit of ’n gaspyp of selfs die gasbeheerklep dalk gelek het en dat dít die ontploffing veroorsaak het. Die klep is in ’n kamer agterin die restaurant.
Daar word vermoed dat die uitgelekte gas ontplof het toe die werkers gisteroggend stowe begin aansteek het om ontbyt te maak.
Die geweld van die ontploffing het die restaurant se plafon uitgeruk en van die vensters en glasdeure gebreek.
Veiligheidswagte en mense van omliggende winkels het kom help en het ook van die gas ingeasem of is deur glasskerwe gesny.
Volgens Morrison lyk dit nie of daar skade aan die restaurant se struktuur aangerig is nie. Geen omliggende winkels is beskadig nie.
Dit kos sowat R2 miljoen om so ’n restaurant te vestig.