Polisielid geskiet toe hy 2 beskerm
2010-08-18 23:23
Oomblikke voordat ’n polisieman geskiet is het hy voor sy kinders inbeweeg om hulle teen rowerkoeëls te beskerm.
Voordat hy geskiet is, het ao. Koos van Staden (36) van die Wierdabrug-polisiekantoor in Centurion die drie rowers gesmeek “om niks te doen nie, want my kinders is hier”.
Van Staden, wat sowat ’n maand en ’n half gelede ná nege jaar uit die polisie weer heraangestel is, het gister vertel hoe hy eergisteraand in sy bed in
’n tuinwoonstel op die Knoppieslaagte-kleinhoewes in Centurion geskiet is.
Hy het omstreeks 22:00 TV gekyk en sy kinders, Evan (12) en Marissa (10), het in die bed gelê en slaap.
Van Staden het skielik ’n beweging in die kamer gesien.
Die beweging was dié van drie rowers wat vermoedelik deur die oop voordeur in die huis ingekom het.
“Ek het dadelik geweet wat dit is,” het Van Staden vanuit sy bed in die hoësorgeenheid van die Unitas-hospitaal in Centurion gesê.
“Hulle het die pistool op my gerig. Ek het probeer kalm bly.
“Ek het my hande opgelig om hulle te wys ek het niks in my hande nie en ook ’n bietjie voor die kinders inbeweeg.
“Ek het aan die rowers gesê om asseblief niks te doen nie omdat my kinders hier is.
“Toe skiet hulle my.
“Een het my toe van die bed afgeruk en my gesig in die teëls ingedruk. Ek het die pistool teen my kop gevoel.
“Ek was net bang hulle skiet my kinders.”
Die aanvallers het die huis geplunder en onder meer met Van Staden se beursie en DVD-speler gevlug.
Me. Drieka van Staden, sy suster, het gesê die kinders het deur die hele voorval geslaap.
“Hulle het wakker geword van iets wat klink soos ’n klapper.
“Toe hulle kyk het hul pa op die vloer gelê. Hul pa het opgestaan, aan hulle gesê dat iemand ’n klapper geskiet het en dat hy gou ‘na oom Hennie (sy broer) toe gaan’. Hulle het eers gehoor hul pa is geskiet toe ons hulle vertel het.”
Mnr. Hennie van Staden woon in ’n huis op dieselfde hoewe. “Ek het probeer sterk wees sodat ek nie die kinders ontstel nie, maar ek het geweet ek moet hulp kry.
“Dit het gevoel of ek doodgaan. Regtig.”
Hennie het met sy broer na die Unitas-hospitaal gejaag waar hy ’n noodoperasie ondergaan het. ’n Deel van sy lewer, asook sy galblaas is verwyder.
Van Staden het gesê sy kinders is die rede hoekom hy nog leef.
Hy is van die kinders se ma geskei en hulle woon by hom.
“Al wat ek nou wil doen is om te kalmeer en gesond te word,” het Van Staden gesê.
Kapt. Agnes Huma, polisiewoordvoerder, het gesê ’n saak van huisroof en poging tot moord word ondersoek.