Polisielid steel glo ook kabels
2012-02-21 22:53
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
“As polisiebeampte is dit sy plig om misdaad te keer, nie om dit te pleeg nie.”
Só het landdros Pieter du Plessis eergister in die streekhof in Johannesburg gesê toe ’n polisielid saam met drie ander mans verskyn het om aansoek te doen om borgtog. Die mans is na bewering lede van ’n sindikaat wat meer as R3 miljoen se Telkom-koperkabels gesteel het.
“Dié sindikaat was so astrant dat hulle Telkom se toerusting gebruik het om strate toe te maak sodat hulle die kabels kon steel,” het Du Plessis gesê.
Die beskuldigdes, mnre. Freeman Phakathi (32), Maxwell Ndlovu (31), Hlengani Aaron Hlongwane (44) en Joseph Tebello Mositoane (33), is in Januarie en Februarie gearresteer.
Luidens ’n verklaring wat by die hof ingedien is, is Hlongwane ’n polisielid. Volgens die staat het hy glo 24 briewe geskryf wat aandui dat koperkabels uit ’n polisiestoor kom en aan die staat verbeurd verklaar is sodat dit verkoop kan word.
Die borgtogaansoek duur volgende maand voort.