Pos Limpopo se premier, sê DA
2012-01-22 21:16
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Kaapstad. – Druk neem toe op die ANC om mnr. Cassel Mathale as premier van Limpopo te vervang namate die omvang van die provinsie se kontantvloeikrisis aan die lig kom.
Dit sluit in dat die provinsiale tesourie se aanmelding van uitgawes ongeloofwaardig is, dat die bestuur van die provinsiale tesourie teen Desember ineengestort het en dat die provinsiale gesondheidsdepartement R400 miljoen wanbestee het, maar dit uit sy finansiële state gelaat het.
Die provinsiale onderwysdepartement, departement van openbare werke en die departement van vervoer en paaie is ook ’n katnes van wanbestuur, blyk uit die voorlopige verslag van die taakspan wat die provinsie se bestuur ondersoek.
Die DA het gister gesê as die ANC omgee vir arm mense, moet korrupte amptenare en politici onverwyld afgedank word, terwyl Cope bekommerd is oor die koste van die taakspan.
Mnr. James Lorimer, DA-LP, het gesê as premier is Mathale verantwoordelik vir die krisis in Limpopo en behoort hy te bedank.
“As hy weier, moet die ANC hom dwing om te gaan. As hy (die ANC) dit nie doen nie, beteken dit dat hy sy (Mathale se) klepto-administrasie stilweg goedkeur, of anders nie die erns van die situasie begryp nie.”
Lorimer het drie redes verskaf waarom hy dink Mathale behoort te bedank.
Eerstens het hy na bewering sy mag misbruik om die LUR’e te dwing om infrastruktuurprojekte goed te keur sodat sekere maatskappye waarmee hy op goeie voet was, baat kon vind.
Tweedens is staatsamptenare wat wanbestuur wou aanmeld, met gereelde reëlmaat afgedank.
Derdens het die provinsie onder sy bestuur bankrot geraak, met onregmatige besteding wat die afgelope twee jaar bykans verdubbel het tot R2,7 miljard.