Pre-1994 is inspirasie vir nuwe DG
2010-09-06 22:13
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Kaapstad. – Kyk na landboupraktyke wat voor 1994 suksesvol was en bring dit terug, meen mnr. Langa Zita, nuwe direkteur-generaal (DG) van landbou, bosbou en visserye.
Hy het gister tydens ’n parlementêre inligtingsessie saam met me. Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, gesê 16 jaar ná die koms van demokrasie is dit nou tyd om te gaan kyk na wat die landbousektor vroeër dienstig was.
“Kommersiële landbou in dié land het ’n bepaalde geskiedenis en agtergrond wat ons nie kan ignoreer nie.
Landbouers is in die verlede byvoorbeeld deur regeringsubsidies gesteun ... dis nou die tyd om te gaan kyk wat het (voor 1994) gewerk en seker te maak dit word teruggebring.
“Dis nie ’n ideologiese kwessie nie; eerder historiese feite.”
Joemat-Pettersson het gesê boere het voor 1994 voordeel getrek uit goedkoop langtermynlenings en dat maniere gekry moet word om dit aan landbouers beskikbaar te stel.
Zita is verlede week as DG aangestel.
Hy is ’n voormalige ANC-LP, hooforganiseerder vir die SAKP en voorsitter van die regerende party se ekonomiese- transformasiekomitee.
Hy het tot onlangs as die minister se spesiale beleidsadviseur gewerk.
Zita het gesê kommersiële landbou se hande moet gesterk word.
“My vernaamste doelwit in dié pos is om seker te maak dat dít wat in landbou werk, gesteun word. Kommersiële landbou, in ag genome al sy uitdagings, wérk; dit verseker voedselsekerheid.”
Volgens hom is boere se stygende insetkoste ’n bron van kommer en hy sal graag gesprekke daaroor met alle rolspelers wil voer.
Hy stem met kritici saam dat daar te min steun vir kleinboere is en dat hulp aan hulle verhoog moet word.
Joemat-Pettersson het bygevoeg sy is besig met ’n hersiening van die departement se navorsingsvermoëns.
“Ek is baie bekommerd hieroor. Ons is besig om ons landboukolleges te heropen en het ’n ooreenkoms oor ’n perseel vir ons navorsingseenheid met die departement van openbare werke aangegaan. Die departement se vermoë om betroubare navorsing te doen is gekompromitteer.”
Mnr. Johannes Möller, president van Agri SA, het gesê Joemat-Pettersson het hom meegedeel Zita se opdrag is om hegte bande met die kommersiële landbou te bou.
Hoewel hy Zita se aanstelling en uitlatings verwelkom, het hy sulke praatjies al tevore gehoor.
“Ons sal hom al die steun bied wat ons kan en hoop dit sal hierdie keer anders wees.”
Joemat-Pettersson het gesê die regering wag vir die ANC se algemene-raadsvergadering oor twee weke vir leiding oor hoe om met grondhervorming en die transformasie van die landbousektor voort te gaan.
“Tussen die Polokwane-resolusies wat bepaal die beginsel van gewillige koper/verkoper het misluk en die voorstelle oor die nasionalisering van grond moet ons ’n middeweg kry.”