Premier geopereer ná sy in toespraak omval
2012-02-17 21:29
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Kimberley. – Mev. Hazel Jenkins, Noord-Kaapse premier wat gister tydens haar jaarlikse provinsiale rede ineengestort het, is gister vroegaand na ’n teater in die Kimberley-hospitaal geneem vir ’n operasie.
Haar toestand is ernstig, maar stabiel, het mnr. Mafu Davids, woordvoerder van die provinsiale regering, gesê.
Dit was teen druktyd nog onbekend wat die oorsaak van haar ineenstorting of wat die uitkoms van die operasie was.
Intussen is aangekondig ’n besluit sal Dinsdag geneem word oor hoe die wetgewer se program verder sal verloop.
Gister se sitting is onmiddellik gestaak en die wetgewer het verdaag nadat Jenkins ineengestort het. Sy was halfpad deur haar provinsiale rede van 26 bladsye.
Sy het skielik ’n paar onhoorbare woorde geprewel, effens gewieg en toe na regs geval.
Dr. Deon Theys, hoof van die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement, het haar te hulp gesnel en gestabiliseer.
Theys het later op ’n mediakonferensie gesê Jenkins het haar bewussyn gou herwin, maar was baie deurmekaar.
Sy is op ’n draagbaar van die verhoog in die CRC-kerk, waar die sitting gehou is, geneem en per ambulans na die Kimberley-hospitaal gebring.
Spesialiste het gistermiddag toetse op haar uitgevoer.