Prokureur pleeg selfmoord in polisiekantoor
2010-03-16 08:32
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Magdel Fourie
’n Prokureur van Johannesburg het homself gister in die Randburgse polisiekantoor doodgeskiet.
Mnr. C.J. Oosthuizen het gistermiddag selfmoord gepleeg deur homself in die kleedkamer in die kop te skiet, het insp. Kym Cloete, polisiewoordvoerder, gesê.
Kort tevore het hy glo in ’n SMS aan ’n vriend gesê hy gaan selfmoord pleeg.
Hy het ook ’n selfmoordbrief agtergelaat, het Cloete gesê, maar hy het dit nie by hom gehad nie.
Oosthuizen, ’n vennoot in die Da Mata-prokureursfirma in Linden, het in ’n netjiese pak en das by die polisiekantoor ingestap.
Hy het toe die trappe na die eerste verdieping, waar die speurafdeling is, uitgeklim.
Hy het in ’n toilethokkie ingegaan, die deur agter hom toegemaak en homself geskiet.
’n Polisielid wat die skoot gehoor het, het in die toilette ingestorm en op Oosthuizen afgekom.
Dit was gister nog nie bekend waarom Oosthuizen na die polisiekantoor gekom het nie, het Cloete gesê. Beeld het verneem
Oosthuizen het van die polisie-lede persoonlik geken.
Hy laat sy vrou en drie kinders agter.