Provinsie-planne op agenda
2010-08-24 22:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Planne om Suid-Afrika se provinsiale regeringstelsel te hersien deur die getal provinsies te verminder, grense te verander of selfs heeltemal van hulle ontslae te raak, sal by die ANC se nasionale hoofraadsvergadering (NGC) in Durban van stapel gestuur word.
Me. Nomaindia Mfeketo, voorsitter van die ANC se subkomitee oor regering, het gister op ’n inligtingsessie in Johannesburg gesê die party het die huidige provinsiale struktuur nog altyd as “tydelik” beskou.
Dit was nodig om die politieke oorgang ná 1994 te vergemaklik, maar die party het bedenkinge oor of dié model nog in die “ontwikkelende staat” se behoeftes voorsien of mense se lewe op voetsoolvlak verbeter.
“Die hersieningsproses moet bepaal of ons nog nege provinsies nodig het,” het Mfeketo gesê.
Volgens haar is die land se bevolking, infrastruktuur en rykdom nie eweredig tussen die nege provinsies versprei nie.
Sommige inwoners hou protes- optogte wanneer hul woongebiede by sogenaamde “arm” provinsies ingedeel word.
Voorts is provinsies waarin die voormalige tuislande is, in die algemeen armer as die res en daar is groter agterstande in dienslewering.
Hoewel ANC-afgevaardigdes volgende maand nie ’n finale besluit oor provinsies se toekoms sal neem nie, moet dit die beleidsproses wat mnr. Sydney Mufamadi, destydse minister van plaaslike en provinsiale regering, al in 2007 onderneem het, in alle erns verder voer.
Luidens die ANC se besprekingsdokument moet daar ná die NGC-vergadering ’n beleidsraamwerk wees vir “die kriteria vir ’n moontlike hersamestelling van provinsies – hetsy deur ’n vermindering of om mettertyd daarmee (provinsiale regerings) weg te doen”.
Mfeketo het gesê as ’n finale besluit behels dat die getal provinsies verminder word, sal die Grondwet gewysig moet word.
Mnr. Jeff Radebe, die ANC se beleidshoof, het op dieselfde inligtingsessie bekend gemaak dat die nasionale vervolgingsgesag, die Valke (die polisie se elite-ondersoekeenheid) en mnr. Willie Hofmeyr se spesiale ondersoekeenheid hul kragte gaan saamsnoer om korrupsie te beveg.
’n Model vir die samestelling van só ’n veelsydige taakspan is gister in Pretoria afgehandel.
Die taakspan sal korrupsie in die strafregstelsel – die polisie, die howe en korrektiewe dienste – en die staatsdiens ondersoek.
“Daar is ’n persepsie dat ons (die ANC) nie die politieke wil het om teen korruptes op te tree nie.
Daar gaan binne die volgende paar weke baie aksie wees,” het Radebe gesê.
Sy prestasiekontrak met pres. Jacob Zuma bepaal dat hy, as politieke hoof van die strafregstelsel, sal toesien dat 100 mense teen 2014 van korrupsie aangekla en gevonnis word.
Daar moet voorts in elkeen van dié sake op bates van meer as R5 miljoen beslag gelê word “om te wys misdaad betaal
nie”.