Raad kan ingenieur nie tug, beslis hof
2009-11-27 23:34
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Beeld op
Die Tshwane-metroraad mag nie tugstappe doen teen ’n senior ingenieur wat geweier het om sekere regstellende-aksie-aanstellings in sy departement te aanvaar nie, het die appèlhof gister beslis.
Die betrokke kandidate het in toetsing uiters swak gevaar, is in die hofstukke aangevoer. In die stukke het dit aan die lig gekom dat die raad hul toetsuitslae deur die bank met 10% verhoog het.
Mnr. Adrianus Weyers, ’n hoogs gekwalifiseerde elektriese ingenieur en besturende ingenieur van kragstelselbeheer by die munisipaliteit, het die departement van arbeid en die Suid-Afrikaanse Ingenieursraad (Ecsa), waarvan hy ’n lid is, formeel van die situasie ingelig.
Vir sy moeite het die raad hom voor ’n tugkomitee gedaag omdat hy sy brief sonder die raad se toestemming aan buite-instellings gestuur het. Hy is geskors.
Die hooggeregshof in Pretoria het ’n interdik aan Weyers toegestaan waarin die raad verbied is om met tugstappe voort te gaan. Die raad is toe appèlhof toe.
Gister het appèlregters L. Mpati, M. Navsa, B. Nugent, D. Mlambo en M. Wallis eenparig beslis die raad se appèl moet verwerp word.
Hulle het bevind Weyers se openbaarmakings word deur die Wet op Beskermde Openbaarmakings beskerm. Dié wet beskerm fluitjieblasers teen tugstappe weens hul fluitjieblaas-dade.
Weyers het sy briewe aan die departement en Ecsa gestuur in die goeie geloof dat die inhoud daarvan korrek is, het die regters gesê. Hy het dit nie vir persoonlike gewin gedoen nie.
Die raad is beveel om Weyers se regskoste in sowel die hooggeregshof as die appèlhof te betaal.
Weyers het gistermiddag gesê hy is verheug dat die jare lange hofgevegte nou verby is. “Dit is ’n groot verligting. Ek sou nooit vandag (gister) hierdie sege behaal het as dit nie was vir Anton Bakker, my prokureur, nie. Hy was die enigste een wat bereid was om enduit by my te staan.”
Weyers was teen laatmiddag nog geskors.
- Beeld